Vuurwapen-eienaars wie se lisensies verval het, is steeds in die duister nadat die minister van polisie, Bheki Cele, vandag ontwykend en vaag geantwoord het op vrae van die VF Plus oor die moontlikheid van onder meer ʼn nuwe amnestieperiode.
Die minister het ʼn jaar gelede op ʼn soortgelyke vraag van die VF Plus laat blyk dat hy die versoek oor ʼn nuwe amnestie-tydperk vir die inhandiging van vuurwapens sou oorweeg aangesien so ʼn versoek volgens hom “billik” was.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het die minister vandag gevra of hy steeds van voorneme is om ʼn nuwe amnestietydperk te bepaal waartydens vuurwapens ingehandig kan word sonder vervolging. Ook watter datum hy daarvoor in die vooruitsig stel.
Die minister is ook gevra of vuurwapeneienaars dan weer die geleentheid sal kry om aansoek te doen om ʼn lisensie vir vuurwapens waarvan die lisensie verval het en of die wapens tuis bewaar kan word gegewe die hoë voorkoms van vuurwapendiefstal by polisiekantore.
Minister Cele het bloot die moontlikheid van verdere amnestie daargestel aangesien die wet dit moontlik maak.
Hy het genoem van aspekte soos moeilike administrasieprosesse wat gepaard gaan met sodanige amnestie.
Die VF Plus sal ʼn opvolgvraag in die polisie se parlementêre portefeuljekomitee vra oor die moontlikheid dat ʼn persoon kan aansoek doen om die lisensiëring van ʼn vuurwapen waarvan die lisensie verval het.
Dit sou net billik wees om so ʼn versoek toe te staan aangesien dit nie die skuld van vuurwapeneienaars is dat daar ʼn administratiewe chaos heers by die polisie se Sentrale Vuurwapenregister nie.
Min. Cele het verlede jaar reeds erken dat die tweede en laaste amnestie-periode erg ontwrig is en dat baie vuurwapen-eienaars daardeur geraak is.
Die VF Plus sal voortgaan om die kwessie namens alle vuurwapen-eienaars op die hooste vlak te dryf aangesien daar geen verskoning is vir die onbevoegde wyse waarop die polisie die amnestie-proses tot dusver hanteer het nie.
*PERSVERKLARING
Lees ook: Die VF Plus is ontevrede oor stemming oor wetsontwerp



