Seun (16) sterf na oordosis dwelms wat hy op Snapchat koop

Deel hierdie storie / Share this story

Dr. Laura Berman, ’n bekende outeur van New York, sielkundige en televisie-aanbieder, se 16-jarige seun is dood na hy dwelms oor die gewilde toep Snapchat by sy huis laat aflewer het.

Dr. Berman het die nuus Maandag bevestig.

“Ons seun, Sammy, was ’n mooi siel wat ons te vroeg verlaat het. Ons harte is stukkend vir ons en al die ander kinders wat swaarkry tydens die pandemie,” sê sy.

In ’n verklaring wat deur Samuel Chapman, Berman se man, uitgereik is, noem hulle dat Sammy aan ’n oordosis van Xanax met fentanyl dood is.

Berman sê haar seun het die dwelms deur ’n dwelmhandelaar wat hy op Snapchat ontmoet het, gekry en sy waarsku nou ander ouers om hulle kinders dop te hou en veral versigtig te wees oor die toep.

“’n Dwelmhandelaar het deur Snapchat met hom begin praat en vir hom die fentanyl-laced Xanax gegee. Hy is in sy kamer dood.

Op haar Instagram-profiel, In The Bedroom with Dr. Laura Berman, het sy geskryf: “As jy tieners het, lees hierdie asseblief en kry hul so gou as moontlik van Snapchat af!”

Die polisie is tans besig met ’n ondersoek en Berman het ’n beroep gedoen op ander sosialemediaplatforms om die polisie in hulle ondersoek te ondersteun.

Snapchat het ’n verklaring uitgereik en gesê dat hy glad nie die koop of verkoop van dwelms op sy platform ondersteun nie en gesê sy medelye gaan uit na die vriende en familie van Sammy. “Ons is hartgebroke oor sy dood. Ons eerste prioriteit is om Snapchat ’n veilige omgewing te hou.”

Volg FiND iT hier op Facebook.