Egpaar wil glo Facebook-vyand en eks-vrou laat vermoor

Deel hierdie storie / Share this story

Schalk en Leoni van der Merwe, van Pretoria, is Woensdag in gehegtenis geneem vir die sameswering om moord te pleeg.

Die egpaar het Vrydag in die Pretoria Noord-landdroshof verskyn en bly in aanhouding tot 3 Maart, vir ‘n formele borgtogaansoek.

Schalk van der Merwe, die onderleier van die Nasionale Konserwatiewe Party en ‘n uitgesproke anti-vaxxer, is onlangs aangehaal dat jy ‘n polisieman kan skiet as jy gedwing word om ingeent te word, sou jy by ‘n padblokkade afgetrek word. Hy noem homself ook ‘n advokaat om plaasmoorde te stop en is ‘n self-erkende “aktivis, prokureur, besigheidskonsultant en sakeman”.

Die arrestasie volg na ‘n drie maande lange ondersoek deur die Justice League Africa, saam met die polisie.

Luidens ‘n berig in Rapport het die Van der Merwes glo beplan om ‘n sluipmoordenaar te kry om hulle aartsvyand, Hannes Lottering, van Parys en ook Van der Merwe se eks-vrou van kant te maak. Lottering en Van der Merwe het glo al interdikte teen mekaar as gevolg van Facebook-uitlatings aan beide kante.

Luidens ‘n verklaring op die groep Die Perdebye binne die volk, help die Van der Merwes mense wat afgedank is omdat hulle weier om ingeënt te word.

Verskeie kliënte het intussen klagtes gelê oor betalings en geen dienste wat ontvang is nie.

Justice League Africa vra dat almal wat verdere klagtes het, dit stuur na [email protected].