Russiese magte is skynbaar in beheer van gevegte by die Antonov-lugmagbasis in Oekraïne wat net sowat 15 tot 20 kilometer buite Kiëf is.
Talle militêre personeellede en burgerlikes is na bewering dood of beseer. Die totale getal kon nog nie bevestig word nie.
Oekraïne sê egter hy baklei terug terwyl die stryd by die lugmagbasis voortduur. Hewige gevegte heers in die oostelike gebiede van die land.
Gewapende konflik is ook by ‘n hospitaal in die Donetsk-streek aangemeld. Gevegte het ook in die hawestede Odesa en Mariupol – en in Kharkiv – in die noordooste uitgebreek.
Die Suid-Afrikaanse ambassade in Kiëf sê hy hou die verwikkelinge fyn dop en staan Suid-Afrikaanse burgers in die Oos-Europese land by.
Die olieprys het gister vir die eerste keer in meer as sewe jaar verby 100 dollar per vat gestyg nadat Rusland Oekraïne ingeval het.
Dié berig is deur Rosestad 100.6FM verskaf.



