Malema het Woensdag getuig die woorde Kill the boer en Shoot to kill moenie letterlik opgeneem word nie.
Julius Malema, leier van die EFF, getuig in AfriForum se haatspraaksaak teen hom en sy party. Die saak word die afgelope weke in die gelykheidshof in Johannesburg aangehoor.
In ‘n video wat Times Live saamgestel het met die belangrikste dele van Malema en Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, se getuienisse in die hof, sê Malema die woorde in dié lied moenie letterlik opgeneem word nie.
Malema het gesê hy is nie die een wat die lied Kill te boer, wat vroeër as haatspraak verklaar is, sing nie. Mark Oppenheimer, AfriForum se regsverteenwoordiger, het Woensdag aan Malema gevra hoekom hy nie die lied sing nie. “Hoekom moet ek dit sing? Daar is nie ’n rede dat ek dit moet sing nie,” het Malema geantwoord. Oppenheimer het Malema gevra wat sy mening dan is as lede van sy party dit sing, waarop Malema se antwoord was: “Hulle sing ’n lied. Dis ’n bevrydingslied.” Hy sê dan ook dit sal glad nie verkeerd wees indien hulle dit sing nie.
Oppenheimer het daarop gewys dat die lied se lirieke duidelik lui dat die boer vermoor moet word, waarop Malema antwoord dat sy ondersteuners verstaan dat dit nie letterlik opgeneem moet word nie.
As Oppenheimer hom dan vra hoe hy weet die lirieke word so opgeneem, sê hy: “Hulle sou dit teen die tyd al gedoen het”. Waarop Oppenheimer geantwoord het dat hulle het.
Roets, ook die skrywer van die boek Kill the Boer: Government Complicity in South Africa’s brutal farm murders, het verlede week getuig oor die toename in plaasmoorde na die lied gesing is.
Ernst van Zyl, ‘n verteenwoordiger van AfriForum wat ook in die hof was, het die saak op sy YouTube-kanaal, Conscious Caracal, ontleed en daaroor gesels. Kyk hier na die video.



