Formulemelk herroep oor bakterieë

Deel hierdie storie / Share this story

Die 400g-blikke babamelkformule Similac Alimentum word nou as voorsorgmaatreël herroep en verbruikers word gevra om die blikke na kleinhandelaars terug te neem vir ‘n terugbetaling.

Thezi Mabuza, waarnemende kommissaris van die nasionale verbruikerskommissie, sê in ‘n verklaring die besluit om die produkte te herroep is geneem na verbruikers aangemeld het dat hulle babas simptome toon ná hulle die formulemelk ingeneem het.

Die produk word in die VSA vervaardig en dan na lande soos Suid-Afrika uitgevoer.

Volgens Mabuza het die verskaffer toetse gedoen en die teenwoordigheid van cronobacter– en salmonella-organismes is in die produk gevind.

Vier gevalle is in die VSA aangemeld. Geen gevalle is nog in SA aangemeld nie.