In die Laer – Kom eet saam

Deel hierdie storie / Share this story

Tradisionele geregte soos kerrie-afval, bobotie, lewerkoekies, wildspastei met pampoenpoffers, gestoofde perskes, koringslaai en melktert en koeksisters as nagereg wag op 19 Maart 2022 op besoekers aan In die Laer in Kimberley.

Ongeveer twintig geregte soos deur die Voortrekkers voorberei in die waens gedurende die Groot Trek word vanjaar vir die Voortrekker-ete voorberei.

Varsgebakte brood met tuisgemaakte konfyt en lewerpatee en kaiings sal as voorgeregte beskikbaar wees terwyl heerlike yskoue gemmerbier die dors sal les.

Die Voortrekker-ete is deel van laeraktiwiteite van 18 to 20 Maart 2022 waartydens ‘n volledige Voortrekker-laer met waens en osse ontplooi word by 8 Myl buite Kimberley.

Vanjaar word ‘n span osse voor die wa ingespan en besoekers kan ‘n rit op die ossewa geniet terwyl hulle die natuur bewonder.

Verskeie aktiwiteite soos brood bak, botter karring, melktert op die vuur, lopers giet, die vuur van voorlaaiergewere en die maak van skoene en kerse sal vanjaar vertoon word.

Uitstallings van volledige ossewaens met al die toebehore en gereedskap en demonstrasies oor die gebruik daarvan sal die lewe in die laer uitbeeld.

Vrydagaand word ‘n In die Laer-storie- en musiekaand aangebied met stories en musiek uit die ossewa-era. Saterdagaand se hoogtepunt is ‘n Voortrekker-ete proe-aand met meer as 20 geregte wat uit die wakombuis voorberei was.

Vir die jeug is daar verskeie speletjies en aktiwiteite uit die Voortrekker-era om aan deel te neem met

pryse aan die wenners. Sondag word afgesluit met ‘n In die Laer-erediens.

Kaartjiebesprekings vir die Voortrekker-ete open 18 Februarie 2022 en die koste is R150 per volwassene en R80 vir kinders onder 10. Die etekaartjie sluit gratis toegang tot die terrein op Saterdag in. Toegang tot die terrein op Vrydag en Saterdag is R50 per volwassene en R20 per kind. Sondag is gratis.

Geskiedenis en kulturele erfenis is besig om verlore te raak vir die jonger geslag. Die bewaring van kultuurgebruike en geskiedkundige gedenkwaardighede is van kritiese belang vir die voortbestaan van ons kultuurerfenis.

Die Rapportryerbeweging, Voortrekkers, Afriforum en die Landsdiens beywer hulle om die Afrikaner-kultuurerfenis te bewaar en te bevorder. Die doel van die geleentheid is om fondse vir die bewaring en instandhouding van monumente by Magersfontein, Paardeberg, Modderrivier en Kimberley in te samel.

Vir meer besonderhede besoek https://indielaer.co.za of skakel vir Marius Nagel by 083 778 9179 om kaartjies te bespreek.