Jong man se tragiese dood laat hartseer familie agter

Deel hierdie storie / Share this story

Die skielike, tragiese afsterwe van die 19-jarige Aobakwe Thomas Makwana het ‘n leemte in baie lewens gelaat. Die jong Makwana het laasweek in die Galeshewe-swembad in Kimberley verdrink.

Sy ma, Nthabiseng Makwana, vertel hy het altyd die mense rondom hom laat lag. Sy beskryf hom as ‘n lang, maer kind wat altyd baie nederig was. “Hy het nogals ‘n kort humeur gehad, en hy het altyd meer omgegee oor ander as homself.”

Sy sê hulle gaan so baie dinge van hom mis. Hy was haar oudste kind, en het altyd die swaar inkopiesakke gedra. Hulle het nie ‘n kar by die huis nie, so daar moet altyd winkel toe geloop word. “Aobakwe is die enigste een wat gewoond was daaraan om die swaar goed te dra. Hy was ‘n harde werker.”

“My seun was baie belangrik in my lewe. Hy het so baie harte aangeraak. My seun sou beslis jou gemoed gelig het wanneer jy ‘n emosionele dag gehad het. Aobakwe sou baklei met sy vriende, maar hy het nooit iets teen hulle gehou nie. Vrede was vir hom belangriker as ‘n vete.”

“Ons gaan hom baie mis. Mag sy onskuldige siel in vrede rus.”

Sy familie het nie geld om sy begrafnis te hou nie. Hulle kry geen hulp van die staat af nie, en het ‘n beroep op die publiek gedoen om te help met donasies. Enige finansiële bydrae sal baie waardeer word.