Ekapa implementeer inentingsbeleid na dood van agt werknemers

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Ná die tragiese dood van agt van sy werknemers weens Covid-19, het Ekapa-myn besluit om inentings verpligtend te maak vir sy werknemers.

Howard Marsden, algemene bestuurder by Ekapa, sê as maatskappy is dit sy nommer een prioriteit om werknemers te beskerm. “Ons glo die inenting is die enigste effektiewe manier om die Covid-19-virus te beveg en dat dit die beste manier is om ‘n veilige werksomgewing te verseker,” sê hy.

Agt van Ekapa-myn se werknemers is aan Covid-19 oorlede. “Dit is ‘n tragiese verlies en ons wil vir seker nie nog ‘n lewe verloor nie,” sê Marsden.

Marsden sê hulle het ‘n risiko-assessering voltooi en vasgestel die enigste manier om Covid-19-sterftes te minimaliseer, is om seker te maak dat hulle werknemers 100% teen die virus ingeënt is.

Alhoewel daar nog nie ‘n datum vasgestel is vir wanneer die inentingsbeleid vir werknemers in plek gestel sal word nie, het Ekapa-myn reeds in November verlede jaar ‘n inentingsbeleid vir besoekers en kontrakteurs aangekondig. Dié beleid is reeds van 3 Januarie af in werking.

“Ons het ‘n inentingskoers van 92% bereik,” sê Marsden. “Addisioneel het ons begin met die bestepraktykbenadering om voort te gaan met konsultasieprosesse en ook die uitvoer van ‘n persoonspesifieke risikobepaling vir diegene wat nié ingeënt is nie.”

Konsultasies met betrokke belanghebbendes, insluitend vakbonde, is tans onderweg.

“Ons is daartoe verbind om die gesondheid en veiligheid van al ons werknemers te verseker.”

Volg FiND iT hier op Facebook.

Lees ook: Leukemielyer veg al 14 maande teen Covid-19