Die video van Schalk Steyn en sy dogter, Anneri, of “Pinnochio”, is al meer as agtduisend keer op Facebook gedeel en Suid-Afrikaners kan hulle lag nie hou nie.
Soortgelyke video’s is op sosiale media gedeel waar leerlinge vir hulle ouers vertel hulle moet ’n skoolvideo maak en in die video vertel hulle dan allerhande stories om hulle ouers se reaksie te kry.
Schalk het in September 2021 die video van hom en Anneri op Facebook gelaai en intussen het dit vir baie plesier onder Suid-Afrikaners gesorg. “Ek en Pinnochio,” lui die opskrif.
In die video sit Anneri en haar pa by ’n tafel. Sy begin deur te vertel dat sy nou in die video gaan vertel hoe sy haar dag bestuur. “Ek staan so vyfuur se kant op,” begin sy, voor Schalk uitbars van die lag. “Jy lieg,” lag hy. “Wanneer het jy vyfuur opgestaan?”
Na Anneri kwansuis vyfuur opgestaan het, maak sy gewoonlik vir almal ontbyt, vertel sy. Sy sukkel ook om haar lag in te hou en Schalk vra dan wanneer het sy ooit ontbyt gemaak. “Ek het daai een keer toe Mamma nie hier was nie,” protesteer sy.
In die res van die video van vier minute lank probeer Anneri om haar dag so besig as moontlik te laat klink, terwyl sy en haar pa skaterlag vir haar “daaglikse program”.
Suid-Afrikaners het onderaan die video lekker saamgelag en gesê die twee se pa-en-dogter-band is baie spesiaal.
“Briljant! Ek het so gelag hiervoor,” lui een van die kommentare.
“Ek het nou so lekker gelag vir die eerste keer in ’n lang tyd,” skryf nog iemand.
“Wat ’n lekker pa. Daardie huis is vol sports. Ek het dit nou al tien keer gekyk!”



