Hierdie spesiale gesin het al vir 18 jaar die land gaande. Almal ken al die wonder-verhaal van Maureen de Kock wat op 48-jarige ouderdom onverwags swanger geraak het en geboorte geskenk het aan ‘n pragtige, gesonde dogtertjie.
Zcharnel de Kock is nou nie meer ‘n dogtertjie nie, sy het Maandag 7 Februarie 18 jaar oud geword. Maureen kan nie glo haar jongste skryf dié jaar matriek nie. “Ek kan nie glo die tyd het so gevlieg nie.” Sy kan nog onthou wat ‘n nuwe uitdaging dit was toe sy die eerste dag gr. 1 toe gegaan het.
Zcharnel is ‘n veelsydige meisie. Sy het netbal gespeel van Graad 2 af, en is gekies vir Bokkie-week in gr. 7. Sy was deel van die Oos-Gautengse jukskeispan wat in Kroonstad deelgeneem het aan die SA-proewe. Sy het ook ‘n trofee ontvang vir die meeste vordering in die Junior Jukskei-afdeling. Sy is ‘n voorstander van dit wat reg is, en staan op vir kinders wat geboelie word.
Sy dien ook in die skool se uitvoerende raad.
Haar ouer suster, Nicolette Martins, het twee kinders. Ryan-John O’Hara is hierdie jaar 22 en Sonelda is in graad 9.
Maureen sê dat dit hulle as gesin nooit gepla het om so baie in die koerante te wees nie. “Ons het nie probleme gehad nie. Mens het net bekend geword. Ek sou sê dit het ‘n positiewe invloed op ons lewens gehad.”
Maureen en haar man, Albert, moes destyds baie vrae trotseer nadat die laat swangerskap bekend geword het, maar sy het net vasgeklou aan haar geloof. “Ek het net aan my geloof en Vader vasgehou.”
Maureen het geen aanpassings gemaak om te probeer inpas by die ander “jonger ma’s” nie, sy het net getrou aan haarself gebly.
Oor die verhouding tussen haar en beide haar dogters vertel sy: ”Ons is baie na aan mekaar. Ons bederf mekaar baie en spandeer tyd saam, wanneer ons die kans kry in die besige lewens wat ons het.”
Haar raad aan ouer ma’s wat ook laatlammetjies het, is: “Gee liefde. Gee om. Onthou dissipline. Bederf werk nie, dan maak jy ‘n brat groot.”



