Die DA-raadslid van Kimberley, Ockie Fourie, was drie weke gelede genader deur ‘n inwoner van Poolestraat om te kyk of hy nie die munisipaliteit van Sol Plaatje sover kon kry om die slaggate in hierdie straat te herstel nie.
Die slaggate was daar sedert 2018. Fourie kon niks met die munisipaliteit uitrig nie.
“Die munisipaliteit se verskonings wissel van gebrek aan mannekrag, toerusting en finansiële begroting.”
Hy vertel dat die hoofoorsaak van die slaggate is: “Die padoppervlak was nie ontwerp om die hoë volumes verkeer te dra wat drasties toegeneem het oor die laaste ongeveer 10 jaar nie, asook totale gebrekkige instandhouding. ‘n Verdere bydraende faktor is voortdurende waterlekke wat opdam in slaggate en die padoppervlak verder erodeer deur talle voertuie wat deur die slaggate beweeg en dit al groter uittrap.” Gebruikers het al groot skade gely as gevolg van hierdie enorme slaggate.
Na verskeie onsuksesvolle pogings met die munisipaliteit, het Fourie besluit om ‘n kontrakteur, wat al voorheen behulpsaam was, te versoek om die area te besoek en ‘n kwotasie te voorsien. Fourie het daarna die inwoner meegedeel van die nuwe verwikkelinge. Die inwoner wou eers nie, maar het later ingestem om saam met die bure die koste te deel.
Na al die nodige reëlings, het die kontrakteur en sy span gisteroggend die pad, voor die inwoners se huise, binne vyf ure voorberei en herstel. Dié straat is nou weer veilig en rybaar. Die inwoners was baie in hul skik met die hoë standaard waartoe die pad herstel is. Die een inwoner het gesê: ”Ek het nooit geweet dit is hoe slaggate reggemaak moet word nie!” Die goeie diens het ook gelei tot ‘n verdere versoek vir die herstel van nog slaggate, asook die teer van ‘n oprit in dieselfde straat.
Daar is baie mense wat die kontrakteur en sy span se werk hoog op prys stel. “Die kontrakteur is welbekend vir sy hoogs professionele opvul en herstelwerk aan slaggate en padoppervlaktes.”



