R1,5 miljard in die drein — Suid-Afrika se eerste slimfoonfabriek word op ’n veiling aangebied

Deel hierdie storie / Share this story

Net meer as twee jaar ná sy bekendstelling word Suid-Afrika se eerste slimfoonfabriek op ’n veiling aangebied.

Die Mara-slimfoonmonteeraanleg naby Durban is in Oktober 2019 deur president Cyril Ramaphosa geopen en as ‘n moderne fasiliteit beskou wat sal help om duisende werksgeleenthede te skep.

Mara Phones het die fabriek opgerig met die helfte van R1,5 miljard se finansiering van Standard Bank en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie.

Die oorblywende bedrag was om die voortgesette werking daarvan te help verseker.

Mara het beweer die fasiliteit kan 1,2 miljoen slimfone vir die plaaslike en streeksmark vervaardig en het reeds 200 werkers in diens gehad by die opening daarvan.

Die modelle wat by die fabriek gemaak is, was bekostigbare slimfone soos die Mara X, Mara Z en Mara S.

Veilingsdokumente het aan die lig gebring dat die aanleg en sy inhoud verkoop word en die besigheid sal as ‘n eenheid aan potensiële kopers aangebied word.

Die veilinglot sluit in: die aanleg, vervaardigings- en toetstoerusting, slimfoonkomponente en die voltooide fone wat in sy stoorfasiliteite gehou word.

Onder die toerusting wat te koop aangebied word, is ‘n hervloei-oond, kalibrasie- en RF-toetsapparatuur, batterysimulators en ‘n kragopwekker.

Ander items wat by die verkoping ingesluit is, is rekenaars, skerms, randapparatuur en kantoormeubels.

Die afslaers het aan Business Insider gesê plaaslike en internasionale kopers insluitend een uit Indië, het belangstelling getoon om die fabriek te koop.

Dit was onduidelik wat tot die verkoop van die fabriek gelei het en of dit te wyte was aan die handelsmerk se onvermoë om vastrapplek in die Suid-Afrikaanse mark te kry.

Die Mara X- en Mara Z-slimfone het by bekendstelling vir tussen R3 000 en R4 000 elk verkoop.

Suid-Afrikaners het egter ‘n wye reeks bekwame maar bekostigbare slimfone in hierdie segment, insluitend baie modelle van goed gevestigde Chinese vervaardigers soos Xiaomi, Vivo en Huawei.

Standard Bank het aan MyBroadband gesê hy kan nie kommentaar lewer nie en het alle navrae na Mara verwys.

Mara Phones het voorheen versuim om op ons vrae te reageer oor hoeveel slimfone dit op verskillende tye in die land kon verkoop het.

Die maatskappy het ook nie op ons jongste navraag oor die fabriek se verkoop gereageer nie.

Die lot van Mara se fabriekswerkers en dié by sy winkel in Maponya Mall in Soweto, wat in November 2020 bekend gestel is, is ook onbekend.

Alhoewel sy Suid-Afrikaanse webwerf nog aktief was ten tyde van publikasie, was al drie Mara-modelle wat aangebied is uit voorraad en nie beskikbaar om te bestel nie.