‘n Man het tragies gesterf toe hy met sy bakkie oor die krans by Voëlklip, by Heroldsbaai, gestort het. Luidens die George Herald is die man as Conrad Maree (33) geïdentifiseer.
Die George Herald berig Maree is oorspronklik van Krugersdorp, maar het in 2021 na George verhuis.
Kaptein Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sê Maree het nie Dinsdagoggend vir werk opgedaag nie. Die opsporingstelsel wat geïnstalleer is in die bakkie waarin Maree gereis het, het die soekgeselskap na die ongelukstoneel gelei waar die voertuig en die liggaam van Maree onder ‘n krans gevind is.
Die polisie sê geen gemene spel word vermoed nie en ‘n geregtelike doodsondersoek volg.
Dit is die vyfde voertuig wat teen die kranse op dié pad afgery het sedert Heidi Scheepers en haar twee kinders in Oktober 2019 oor die rand by Hansie se Bank is.



