Regter verbied ongeënte man om sy kinders te sien

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Ongeënte man in Kanada is tydelik verbied om sy drie kinders persoonlik te sien nadat ‘n regter hom as ‘n gesondheidsrisiko vir sy immuunonderdrukte dogter beskou het, volgens verskeie mediaberigte.

Regter Nathalie Godbout van die Court of the Queen’s Bench in New Brunswick het die uitspraak op 31 Januarie gegee. Ingevolge die uitspraak word die kinders se ma toegelaat om haar kinders in te ent sonder dat die pa se toestemming vereis word.

In haar besluit van 26 bladsye het Godbout geskryf dat sy die beslissing met ‘n “swaar hart” geneem het en dat die pa ‘n gesondheidsbedreiging vir sy drie kinders inhou – veral vir sy 10-jarige dogter, wat ‘n bloedtoestand het wat gespesialiseerde sorg vereis.

Nie een van die ouers is in die uitspraak genoem nie. Die pa en die kinders se ma is in 2019 uitmekaar en het gesamentlike toesig oor die kinders.

Volgens mediaberigte het die ma in Oktober aansoek gedoen om die pa se besoekregte op te skort nadat sy uitgevind het hy en sy nuwe lewensmaat is nie ingeënt nie. Voor die verhoor in Januarie het die pa geweier dat die kinders ingeënt word.

Die ma se prokureur, Grant Ogilvie, het gesê dat die drie kinders sedertdien hul eerste Covid-19-entstofdosisse ontvang het. Ogilvie het aan die hof gesê dat die vervolging van die saak vir die ma daaroor gaan om te doen “wat die beste vir die kinders is.”

Die pa sal ‘n “vrygewige” hoeveelheid kontak met sy kinders gegun word, maar slegs deur middel van telefoon of met video-oproepe. As hy ingeënt word, kan hy aansoek doen om die uitspraak te laat ophef.

Godbout het ook die pa se “navorsing” oor die Pfizer-BioNTech Covid-19-entstof van die hand gewys, wat hom laat glo het dat dit sy dogter kan benadeel, en opgemerk dat hy dalk net inligting gesoek het wat sy standpunt oor entstowwe ondersteun.

Die saak is nie die eerste een oor ongeënte ouers se besoekregte wat opgeskort word nie.

Bronne: Business Insider, My Broadband

Volg FiND iT hier.

Lees ook: Regter Mandisa Maya aangemoedig om die pos van hoofregter te ‘weier’