Strande in SA gesluit weens bedreiging van tropiese sikloon

Deel hierdie storie / Share this story

Die sikloon Batsirai, ‘n tropiese sikloon wat geassosieer word met volgehoue winde van sowat 140 km/h, baie rowwe see, gekombineer met stormvloede, kan Suid-Afrika moontlik tref.

Die strande wat geraak kan word, is in die KwaDukuza-munisipaliteit in Kwa-Zulu Natal.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku dat onstuimige weerstoestande die area kan tref.

Die KwaDukuzu-munisipaliteit het ook ‘n waarskuwing uitgereik dat veiligheidstoerusting van die betrokke strande verwyder sal word en dit sal herstel word sodra dit veilig is. Die toerusting is noodsaaklik om strandgangers veilig te hou teen haaie en ander gevare.

Sipho Mkhize, munisipale woordvoerder vir die KwaDukuza-munisipaliteit, sê daar word voorspel dat die kategorie vier tropiese sikloon, Batsirai, vroeg volgende week in die suide van Mosambiek sal aankom.

“Die KZN-haaieraad het vanoggend, 3 Februarie, ‘n besluit geneem om alle haai-veiligheidstoerusting van beskermde strande te begin verwyder weens die potensiële uitwerking wat Batsirai vanaf Sondag 6 Februarie op ons kus en weerstoestande kan hê. In die lig van bogenoemde het die KwaDukuza-munisipaliteit ‘n besluit geneem om al sy strande onmiddellik te sluit – totdat die sikloon verby is en die haai-veiligheidstoerusting herstel is. Hierdie aksie word geneem om lewens en onnodige verliese en/of skade aan raadstoerusting te beskerm weens die sterk winde en swaar see wat met hierdie strawwe weerstelsel geassosieer word.”