So koester ek herinneringe

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Plakboek is `n uitstekende manier om jou herinneringe te bewaar en jou kreatiwiteit uit te leef.

Dis ‘n plek om kosbare gesinsfoto’s, erfstukke en herinneringe te vertoon en ‘n wonderlike manier om jou familiegeskiedenis en herinneringe te dokumenteer en ‘n blywende geskenk vir toekomstige geslagte te skep. Terwyl dit dalk na ‘n uitdagende taak lyk as jy met bokse stowwerige ou foto’s gekonfronteer word, is scrapbooking eintlik lekkerder en makliker as wat jy dink!

Die plakboekgogga het Anet Swart (64) in 2011 gebyt nadat haar vorige bestuurder die stokperdjie aan haar voorgestel het en sedertdien is dit, wat sy beskryf, ‘n gesonde verslawing wat jou kop skoon hou.

Haar plakboeke is ‘n mengelmoes van onbelangrikhede wat eens belangrik was – hier ‘n foto, daar ‘n herinnering van onvergeetlike tye wat haar lewenslank sal bybly – hier ‘n traan, daar ‘n glimlag.

Die emosies van onthou spoel oor jou wanneer jy deur ‘n plakbloek blaai wat jy self gemaak het. ‘n Hele lewe gevul met herinneringe doem voor jou op – sommige aangenaam, ander minder so. Tog sal die herinneringe vir altyd by jou bly.

Volgens Anet is daar niks  wat nie “gescrapbook” kan word nie.

“Ons ‘scrapbook’ letterlik alles, van ons families, troeteldiere, wild – enigiets waaraan jy kan dink. Ons maak ook mini-albums, bordjies om skêre of sleutels aan op te hang, skinkborde en vele meer. Wanneer dit by ‘scrapbooking’ kom, is daar geen reëls, nie. Dis alles oor hoe jy voel. Dis ook dan wanneer jy besef, tyd staan nie stil nie, en ons lewens gaan aan, maar ‘n plakboek herinner jou, behou die goeie en fokus op die mooi van die lewe.”

Wenke om ook ‘n plakboek te begin:

Om te begin met ‘scrapbooking’, kan ‘n redelike duur stokperdjie wees, maar as jy eers al jou gereedskap en papier het, is dit nie meer so duur nie.

As `n beginner kan die stokperdjie oorweldigend wees as jy nie weet waar om te begin of waar om idees te kry nie.

Hier is `n paar basiese stappe om jou te help om te begin:

Wat het jy nodig?

Foto`s

Plakboek

Skêr

Gom

Versierings

Stap 1:

Kies en organiseer die foto`s wat jy wil gebruik.

Stap 2:

Kies ‘n tema vir jou foto’s, bv. Kersfees. Sorg dat jou versierings daarby pas sodat jy die tema goed kan uitbeeld.

Stap 3:

Kry uitlegidees uit “scrapbooking”- en stokperdjietydskrifte. Skets eers jou uitleg op ‘n ander papier sodat jy weet hoeveel ruimte is beskikbaar op die bladsy. Dit sal jou `n idee gee van waar om foto`s te plaas en waar om te versier. Jy kan die foto`s rondbeweeg soos `n legkaart totdat jy `n uitleg het waarmee jy tevrede is. Sny jou foto`s waar dit nodig is om ruimte te skep.

Stap 4:

Sodra jy op `n uitleg besluit, plak jou foto`s en versierings op die bladsy vas. Skryf heel laaste die besonderhede van die foto`s op die bladsy: wie, wat, waar en wanneer.