Slaggate in die stad se paaie bly al so lank onveranderd dat gras daarin begin groei.
Ensie Enslin, ’n inwoner van die stad, spot en sê Sol Plaatje-munisipaliteit moet nou maar ’n grassnyer aanstel.
“Ek het hierdie foto’s naby die Polisiewoonstelle in Beaconsfield geneem. As jy die foto van nader bekyk, sal jy sien hoe lank die gras op die sypaadjies ook is.”
Ensie sê die dienslewering in die stad is glad nie wat dit moet wees nie.
“In Broadway groei daar bome in die voortjies tussen die sypaadjie en die straat! In Mzimbastraat in Galeshewe vloei rioolwater al vir langer as ’n jaar in die straat waar die kinders kaalvoet loop! Die pad Rooifontein toe – oor die brug verby Cassandra – is ’n absolute skande. Die pad tussen De Beers en Sol Plaatje sal vervang moet word.”
Hierdie is maar net van die probleme wat inwoners van die stad dié week beleef het.



