Vier verdagtes het toegeslaan in ’n plaasaanval wat Vrydag omstreeks 21:37 by Yorky Tique naby Rustenburg plaasgevind het.
Charl Visser van Rustenburg Landelike Diens en Buffelspoort Sekuriteit, sê met hul aankoms op die toneel is die mense in die huis aangetref en hulle het vir hom die deur oopgemaak. Hulle het hom meegedeel dat daar vier aanvallers was wat gewapen was met onder andere ’n 303-geweer.
Plaasaanval
Volgens die slagoffers is die werkershuis se venster gebreek waarna die man uitgegaan het om te kyk wat aangaan. Die booswigte het ‘n wapen deur die venster op sy vrou gerig en die man beveel om in die huis in te gaan. Hulle is geblinddoek met van hul klere en ‘n mes is teen die vrou se nek gehou. Hulle is toe beveel om saam te gaan na die eienaar se huis toe. Met hulle aankoms is hulle beveel om die eienaar te roep en uit die huis te lok. Die dogter het uitgegaan waarna die 303 op haar gerig is en die sneller getrek is. Die skoot het nie afgegaan nie, waarop die dogter met die kolf op die kop geslaan is. Die werker en dogter het begin terugbaklei en die 303-geweer is by die booswigte afgevat.
Die booswigte het op die vlug geslaan waarop ’n boodskap op ’n ondersteuningsgroep uitgestuur is vir hulp.
“Met ons aankoms het ons die perseel beveilig en ons reaksiegroep geaktiveer en ons spoorsnyhond uitgekry. Die 303-geweer, nege patrone en magasyn is op die toneel gekry. Daar was ook verskeie kledingstukke waarmee die werkers geblinddoek was. “Ek het die polisie in kennis gestel van die voorval en verskeie eenhede is uitgestuur,” sê Visser.



