Tiener al 24 dae lank blind

Deel hierdie storie / Share this story

Claudine Erasmus (16) is al 24 dae lank blind nadat sy met pseudotumor cerebri gediagnoseer is.

Claudine, wat bitter lief is vir teken en sing, het agtergekom iets is fout toe sy hoof- en nekpyn, swak visie en naarheid begin ervaar het.

Die leerder van Hoërskool Koffiefontein se visie het teen 27 Desember 2021 ook erg verswak.

Claudine se ma, Cecilia, sê hulle het eers gedink dit is ’n migraine.

Blind teen 12 uur

“Ons het haar intussen na ’n dokter op Koffiefontein geneem. Ons het gedink dis ’n migraine. Teen Sondag twaalfuur was Claudine heel  blind. Sy het net al hoe sieker begin raak en ons het haar na ’n oogspesialis toe geneem en van daar af is sy noodgevalle toe en in die hospitaal opgeneem.”

Claudine is met pseudotumor cerebri gediagnoseer.

“Haar brein bou vog op en die hoë drukking in die skedel het haar oogsenuwees aangetas. Haar  oogsenuwees is nog baie geswel. Dokters kan eers vasstel of daar permanente skade gaan wees as die swelling gesak het en die vog minder is. Tans is die drukking en swelling nog baie hoog.”

Claudine moes ’n noodoperasie ondergaan om vog te dreineer.

“Die 11de Januarie 2022 het sy ’n operasie ondergaan waartydens ’n neurochirurg ’n omleiding (‘shunt’) ingesit het om vog te dreineer.”

Cecilia sê dit is vir die gesin en vir hulle as ouers baie moeilik.

“Vir ons as ouers is dit baie hartseer om haar elke dag so te sien huil oor haar visie, want ons weet hoe belangrik ’n persoon se visie vir hom of haar is. Claudine is baie emosioneel en huil baie, want dis baie moeilik vir haar. Sy mis alles wat sy kon gedoen het voor sy haar visie verloor het. Sy verlang na haar maats en haar skool en haar onderwysers. Sy sê baie vir ons sy wil net graag weer haar familie se gesigte sien.”

Claudine is baie lief vir diere, veral wildediere en reptiele. Omdat sy blind is, kan sy tans nie haar eie diere versorg nie.

“Dit is vir haar vreeslik hartseer dat sy hulle nie kan sien of versorg nie.”

Die gesin sê hulle het soveel liefde en ondersteuning van mense af gekry.

“Ons as gesin is so dankbaar dat soveel mense vir Claudine bid en haar so ondersteun. Daar is soveel mense wat uitreik na Claudine en ons kan nie genoeg dankie sê vir mense wat God op haar pad gesit het nie. Baie dankie aan elke persoon daar buite wat aanhou bid en haar so ondersteun. Sy is dankbaar vir haar skoolmaats en onderwysers wat by haar staan.”

Claudine sê elke dag vir haar ouers: “ Mamma, Pappa mens mis die dag iets wanneer ’n mens dit nie meer het nie.”

Claudine sê sy is reg vir wat ook al gebeur met haar op haar pad vorentoe, want sy wil gaan getuig wat God vir haar doen en gedoen het. Sy glo God het ’n doel met alles en wil mense bemoedig wat deur moeilike tye gaan en wat in erger situasies is om vas te byt en te glo dat niks onmoontlik is by Hom nie. So tussen haar trane deur sê sy dit het haar net nader aan die Here gebring en laat besef hoe dankbaar ’n mens moet wees vir alles.

Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels hier.