Stiptelik, professioneel, vriendelik en altyd tyd vir ‘n grappie, is sommer net ‘n paar karaktereienskappe van Jaco Cloete, Kuruman se nuwe gimnastiek-afrigter.
Gimnastiek is een van die mooiste sporte om na te kyk. Die meisies verstom mens as hulle so grasieus en al dansend hulle vloeroefeninge doen. En mens snak keer op keer na jou asem as hulle hulself so fyntjies op die balk balanseer terwyl hulle wawiele, flikflakke en ander toertjies doen wat meeste mense nie eens op die grond kan doen nie! Die ouens verras jou met hul absolute krag en koördinasie.
Jaco, wat op die ouderdom van drie met gimnastiekklasse begin het, is in Bloemfontein gebore, maar het die grootste deel van sy lewe in Kimberley gebly waar hy ook sy skoolloopbaan voltooi het.
In 2021 verhuis hy Kuruman toe waar hy die geleentheid gesien het vir ‘n gimnastiekklub en met jare se ondervinding as vlak 1-afrigter, vlak 2-beoordelaar en streeksvoorsitter, het hy in bietjie meer as ‘n jaar en drie maande die klub, waar hy op die oomblik 70 seuns en meisies afrig, vinnig op dreef gekry.
Wanneer jy vir Jaco vra hoekom Kuruman, kom sy antwoord vinnig: “Die mense”.
En hoekom gimnastiek, kom sy antwoord maklik: “Gimnastiek ontwikkel jou spiere, jou balans, veerkragtigheid en soepelheid. Dit is ook ‘n individuele sport, so konsentrasie verbeter aansienlik. Gimnastiek ontwikkel kinders se hele liggaam, juis omdat jy jou eie gewig moet dra en elke spiersoort moet gebruik. Om ’n goeie gimnas te word, is getroue, gedissiplineerde oefening noodsaaklik.”
Vir meer inligting kontak vir Jaco by 073 278 1286 of stuur ‘n e-pos aan [email protected]



