Inwoners van McHardystraat in Cassandra se erwe was verlede week in riool gedompel toe Sol Plaatje-munisipaliteit vir dae nie op klagtes reageer het nie.
Marinda Snyman het aan Kimberley Online Co. gesê die rioolprobleem was vir twee weke lank nie uitsorteer nie en ’n buurman het so moeg geraak vir die reuk sowel as die water wat enkeldiepte in sy erf lê, dat hy ’n pomp gekry het en die rioolwater straat-af gepomp het.
Riool loop straat-af
“Die probleem was net dat die water wat straat-af geloop het, net weer in ander erwe ingeloop het.”
Die probleem is menige male by die munisipaliteit aangemeld, wat net verwysingsnommers gegee het, maar nie op die klagte reageer nie.
Kimberley Online Co. het navraag by Sello Matsi, sowel as Thoko Riet, munisipale woordvoerders, gedoen en ’n span is dieselfde middag uitgestuur om die probleem uit te sorteer.
“Hulle het net so na vier opgedaag en die probleem uitsorteer. Hulle het ’n hele spul plastieksakke-en bottels, sowel as stukke van ’n babakombersie uit die drein uitgehaal. Dit gebeur gereeld in Cassandra. Dit is nie die eerste keer nie.”



