In 1969 is die eerste stene van die gebou vir Laerskool Eureka opmekaargesit. Die skool was in daardie stadium nog nie Laerskool Eureka nie, maar Laerskool Hadisonpark. Op 11 September 1971 is dié skool eers na Laerskool Eureka hernoem.
Laerskool Hadisonpark het amptelik sy deure in Januarie 1971 geopen met mnr. Louis Pienaar aan die stuur as die heel eerste skoolhoof. In daardie stadium was daar 186 leerders en vyf onderwysers.
Die volgende jaar in 1972 is daar 260 leerders ingeskryf en die skoolfonds het R4.00 per maand beloop.
Na net drie jaar het die leerdertal na 292 leerders gestyg. Daar het dan ook in 1974 groot opgewondenheid by die skool geheers toe die eerste skoolbus by die skoolhek ingery het.
Na 15 jaar in 1987 het mnr. Louis Pienaar die leisels aan mnr. Koos Lochner oorgegee. In 1991 het Laerskool Eureka sy 21ste verjaarsdag gevier. Mnr. Hermie van der Merwe was toe Eureka se derde skoolhoof en die getal leerders was reeds 529.
Na ‘n baie suksesvolle termyn van baie harde werk het mnr. Daan du Toit die stuur by mnr. Hermie van der Merwe oorgeneem. As die vierde skoolhoof van Laerskool Eureka het hy die eer gehad om op die 30ste Augustus 1997 die skool se splinternuwe klubhuis in te wy.
In 2010 het die skool afgeskop met 813 leerders en mnr. Manie Verrynne het by mnr. Daan du Toit as die skool se vyfde skoolhoof oorgeneem.
Met die skool wat volgende week vir die jaar 2022 begin, is mnr. Manie Verrynne steeds aan die stuur en verwelkom hulle juf. Monique Vermeulen en juf. Kirsten Clarke by Gr. RR.
In 2022 sal alle Gr.R- en RR-kleuters gratis Playball asook gratis arbeidsterapiesessies ontvang.



