Prins Harry wil self betaal vir polisiebeskerming, stel regseis in

Deel hierdie storie / Share this story

Prins Harry het ‘n regseis ingedien vir polisiebeskerming waarvoor hy persoonlik sal betaal wanneer hy Engeland saam met sy gesin besoek.

Prins Harry wil sy seun Archie en sy babadogter, Lilibet, uit Amerika na Engeland neem vir ‘n besoek, maar dit is te “gevaarlik”.

Dit volg op ‘n voorval in Londen in die somer van 2021 toe sy veiligheid in gevaar gestel is nadat sy motor deur paparazzi-fotograwe agternagesit is toe hy ‘n liefdadigheidsgeleentheid verlaat het.

Die hertog wil self die sekuriteit finansier, eerder as om belastingbetalers te vra om die rekening te betaal, het ‘n regsverteenwoordiger vir Harry gesê.

Harry voer aan dat sy private beskermingspan in die VSA nie voldoende jurisdiksie in die buiteland het nie en nie toegang tot Britse intelligensie-inligting het wat nodig is om die Sussex-gesin veilig te hou nie.

“Die Verenigde Koninkryk sal altyd Prins Harry se huis wees en ‘n land waarin hy wil hê dat sy vrou en kinders veilig moet wees,” het sy regsverteenwoordiger in ‘n verklaring aan die PA-nuusagentskap gesê. “Met die gebrek aan polisiebeskerming is daar ’n te groot persoonlike risiko.”

Hy het bygevoeg: “Die hertog en hertogin van Sussex finansier persoonlik ‘n private sekuriteitspan vir hul gesin, maar daardie sekuriteit kan nie die nodige polisiebeskerming bied wat nodig is terwyl hulle in die VK is nie.

“In die afwesigheid van sulke beskerming kan prins Harry en sy gesin nie na sy huis terugkeer nie.”

Lilibet, wat nou sewe maande is, het nog nie haar oumagrootjie, die koningin, oupa, die prins van Wallis en ander lede van die familie van aangesig tot aangesig ontmoet nie.