Leerling wat vriend, toe homself skiet, het net oupa se geweer gewys

Deel hierdie storie / Share this story

Twee gr.10-leerlinge is vandeesweek dood, maar dit het nou aan die lig gekom dit was net ‘n speelse voorval wat skeefgeloop het.

Njabulo Ndhlebe en Zukiso Majola, albei 16 en leerlinge aan die Sekondêre Skool Lesiba in Daveyton, was beste vriende.

Die skool het ‘n persverklaring uitgereik waarin hy sê die twee seuns, saam met nog ‘n vriend, het Woensdag in pouse stokkies gedraai om by die huis te gaan kuier.

Majola het by die huis sy oorlede oupa se geweer vir sy vriende gewys. Hy het dié geweer in Desember sonder sy ouers se medewete gevat, aangesien hy en sy oupa ‘n baie noue band gehad het. Die geweer was iets wat hom aan sy oupa herinner het, lui die verklaring.

Majola het die vuurwapen herlaai en ‘n skoot het per ongeluk afgegaan. Die skoot het Ndhlebe agter sy oor getref.

In skok en paniek het die ander vriend om die huis gehardloop, terwyl Majola agter hom aangehardloop het om hulp te kry vir Ndhlebe.

Gemeenskapslede van die Chief Albert Luthuli-park het onraad vermoed nadat hulle die skoot gehoor het en die seuns sien hardloop het. Hulle het die vriende genader, maar Majola het teruggehardloop huis toe en homself in die motorhuis in die kop geskiet.

Die families sê die drie seuns was beste vriende en daar was geen bakleiery nie. Hulle vra vir privaatheid in die moeilike tyd en bedank almal wat vir hulle bid.

Die gedenkdiens vir die twee seuns word Dinsdag 18 Januarie 2022 om 09:00 by Sekondêre Skool Lesiba gehou.