’n Britse egpaar het hul 81ste huweliksherdenking gevier en so Brittanje se langslewende getroudes geword.
Ron Bond, 102, en sy vrou Joyce, 100, wat in ‘n aftreeoord woon, het op 4 Januarie 1941 by die Newport Pagnell-registerkantoor in Buckinghamshire getrou.
Volgens die egpaar het vriende aanvanklik getwyfel of die pasgetroudes se huwelik gaan hou, maar Ron en Joyce het hulle verkeerd bewys en nou al meer as agt dekades saam deurgebring.
Die egpaar, wat twee kinders het en agter-agtergrootouers is, sê kompromie en “om na mekaar om te sien” is die geheim van hul liefdesverhouding.

Ron en Joyce, 4 Januarie 1941, op hul troudag.
Ron en Joyce het die groot mylpaal-herdenking met tee en koek gevier.
Joyce, ‘n voormalige Woolworths-werknemer, sê hulle het nooit verwag om 81 jaar van getroude lewe te bereik nie.
“Ons weet ons is baie bevoorreg om hierdie wonderlike mylpaal saam te kon vier.”
“Dit voel uitstekend. Daar is geen baas in ons verhouding nie, ons altwee gee en neem,” voeg Ron by.
Joyce was net 19 toe sy die knoop met Ron deurgehaak het nadat sy met die eerste oogopslag verlief geraak het. Ron, wat 21 in daardie stadium was, het dieselfde gevoel.
Nadat hy in die Tweede Wêreldoorlog gedien het, het Ron by ‘n plaaslike motorhandelaar gewerk.
“Die lewe was soms moeilik, maar ons het saam daardeur gewerk,” het hy gesê. “Ons kyk ook na mekaar.”
Die egpaar het ‘n brief van die koningin op hul 81ste huweliksherdenking ontvang.
“Hoe wonderlik om te verneem van jul 81ste huweliksherdenking op 4 Januarie 2021. Ek hoop julle geniet hierdie wonderlike dag,” lui die brief.
“My ouers is werklik ‘n inspirerende paartjie, nie net vir my en my broer nie, maar ook vir hul kleinkinders, agterkleinkinders en agteragterkleinkinders. Mense het hulle onderskat en gesê hulle huwelik gaan nie lank hou nie. Hoe verkeerd kan mense wees? Jy hoef net tyd saam met hulle deur te bring om te besef hoe lief hulle vir mekaar is. Hulle gee só om vir mekaar, selfs ná 81 jaar van getroud wees,” sê Eileen.




