Drie verdagtes wat ontsnap word nog gesoek

Deel hierdie storie / Share this story

Drie verdagtes wat gister ontsnap het op pad na die hof op Vosloorus, is gekry.

Brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê Nkululeko Nkomo en Robert Hlatshwayo, is gevang.

Ses gevangenes het ontsnap terwyl hulle na die hof op Vosloorus onderweg was. Die polisievragmotor wat die gevangenes vervoer het, is deur drie gewapende mans in ‘n silwer Audi op die hoek van Barry Marais en Rondebultstraat voorgekeer.

Vyf van die ses wat ontsnap het, moes by die hof verskyn vir ‘n Dawnpark-saak van sakeroof, poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens. Die ander verdagte moes vir ‘n saak van winkeldiefstal verskyn.

Nkomo en Hlatswayo is in Pretoria, Olivenhoutbosch, gearresteer. Nog ‘n verdagte is in hegtenis geneem en sal van hulpverlening aangekla word.

Thulani Dube, Augustine Moyo en Mbongiseni Mkandla word nog gesoek.

Die polisie doen ‘n beroep op enigiemand met inligting oor die verdagtes, asook die verdagtes wat betrokke was by die vrylating van die beskuldigdes, om die polisie by 08600 10111 te kontak.