Nege in hegtenis na hulle reg in eie hande neem

Deel hierdie storie / Share this story

Nege verdagtes is in hegtenis geneem nadat hulle die reg in eie hande geneem het deur glo ’n man aan te rand en hy op die toneel dood is. Hulle het die man daarvan beskuldig dat hy hulle besittings gesteel het.

A.o. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê die Tseki-polisie het Maandag 3 Januarie 2022 omstreeks 17:00 by ’n misdaadtoneel by die Kgoptjane-afdeling van Bolata Village in Qwaqwa opgedaag. Die gemeenskap het die aanranding van ’n man deur ’n groep mense aangemeld.

Nege neem reg in eie hande

Met hul aankoms op die toneel het die polisie die man gevind waar hy naby ’n laerskool op die grond gelê het met veelvuldige sigbare beserings. Hy is deur mediese nooddienspersoneel dood verklaar.

Daar word deur ooggetuies beweer die man was omstreeks 15:15 by ’n woonplek saam met sy neef toe ’n groep mense opgedaag het met sambokke. Hulle het die man daarvan beskuldig dat hy hul besittings gesteel het. Skielik het hulle hom glo begin slaan totdat hy bewusteloos geraak het. ’n Ambulans is na die misdaadtoneel ontbied en die oorledene is as Themba Petrus Pali (25) van Semphurwaneng-afdeling van Bolata Village in Qwaqwa geïdentifiseer en dood verklaar. Die verdagtes is ook op die misdaadtoneel in besit van sambokke gevind. Nege van hulle is in hegtenis geneem en aangehou.

Die nege verdagtes tussen 21 en 39 jaar oud is aangekla en sal vandag in die Tseki-landdroshof op aanklag van moord verskyn.

Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer arkels hier.