Brandstigting by Parlementsgebou: Man in hof

Deel hierdie storie / Share this story

Zandile Christmas Mafe (49), wat daarvan beskuldig word dat hy Sondag die Parlementsgebou in Kaapstad aan die brand gesteek het, het gisteroggend in die Kaapstadse landdroshof verskyn.

Hy word aangekla van huisbraak met die opset om te steel en van diefstal, twee aanklagte van brandstigting, die besit van ’n ploftoestel en vernietiging van ’n noodsaaklike infrastruktuur. Meer aanklagte sal waarskynlik bygevoeg word soos die ondersoek voortduur.

Die staat het die hof versoek om die saak vir die volgende sewe dae uit te stel vir borgtoginligting, soos die bevestiging van sy woonadres, of hy enige bates het, enige hangende sake en lasbriewe van arrestasie teen hom het, asook enige vorige veroordelings.

Verdagte in brandstigting van Parlementsgebou nog in aanhouding

Die Staat het ook die uitstel versoek ten einde die skedule waarvolgens die beskuldigde aangekla sal word, vas te stel, aangesien die Staat van plan is om hom ingevolge Bylae 5 aan te kla terwyl die verdediging daarop aandring dat hy ingevolge Bylae 1 aangekla moet word.

Die uitstel sal ook die ondersoekbeampte, kol. Theron, die geleentheid bied om die misdaadtoneel te besoek om die omvang van die skade te bepaal. Die misdaadtoneel was tot laat eergister nog aktief, wat dit ontoeganklik gemaak het. Die staat sal Mafe se borgtogaansoek, wat hy beoog om by sy volgende verskyning wat vir 11 Januarie 2022 geskeduleer is, te bring, teenstaan.

Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels hier.