’n Vrou word vermis en haar motor is verlate geparkeer gevind. Die polisie versoek nou die gemeenskap se hulp om Sylvia Wittal (45) op te spoor.
Wittal is op 2 Januarie 2022 deur haar eks-man as vermis aangemeld nadat hy vir ’n ruk lank nie met haar in kontak kon kom nie.
Vrou vermis
Volgens haar eks-man het hy glo laas Donderdag 30 Desember 2021 met haar oor die foon gepraat om reëlings vir hulle twee kinders te tref. Toe hy daarna nie weer van haar hoor nie, het hy haar as vermis aangemeld.
Haar silwer Kia Picanto is intussen gister by Sacramento, Schoenmakerskop, Gqeberha, deur die polisie gevind. Volgens ooggetuies in die omgewing was die voertuig die afgelope twee dae daar geparkeer. Die polisie is tans in die omgewing besig met ‘n soektog na Wittal in die omliggende bosse en op die strande.
Enige persoon wat die polisie kan bystaan om Wittal op te spoor, of wat dalk inligting het wat die polisie met die soektog en ondersoek kan help, kan speurderkonstabel Johannes Meyer by 073 688 9595 kontak.



