’n Minderjarige mensehandel-slagoffer is oor die naweek gered nadat sy glo in Maart 2021 van haar huis weggelok is, teen haar wil aangehou is en aan dwelms en seksuele uitbuiting blootgestel is.
Die Valke se Ernstige Georganiseerde Misdaad Ondersoekspanne het ’n oproep ontvang oor ’n 17-jarige meisie wat teen haar wil aangehou word. Na ’n indiepte ondersoek het die Valke op ’n woonstel in Sunnyside, Pretoria, toegesak.
Minderjarige gered
Vier verdagtes tussen die ouderdom van 19 en 40 jaar oud is in hegtenis geneem en die minderjarige meisie (17), sowel as ’n 25-jarige vrou, is Vrydag 31 Desember 2021 gered. Al twee slagoffers is na ’n plek van veiligheid geneem.
Twee van die vier verdagtes wat in hegtenis geneem is, is voortvlugtiges wat sedert September 2019 vermis is. Hulle is na bewering verbind met ’n ander saak van mensehandel waar nege verdagtes in hegtenis geneem is.



