Ghislaine Maxwell is Woensdag deur ‘n Amerikaanse jurie skuldig bevind dat sy Jeffrey Epstein gehelp het om tienermeisies seksueel te misbruik.
Maxwell (60) is daarvan beskuldig dat sy vier tieners tussen 1994 en 2004 “gewerf” het vir Epstein. Epstein en Maxwell was ‘n paartjie. Epstein het homself in 2019 in ‘n Manhatten-tronksel om die lewe gebring terwyl hy verhoorafwagtend was op aanklag van seksuele misbruik van minderjarige meisies.
Maxwell is op vyf van die ses aanklagte skuldig bevind, insluitend een van sekshandel. Sy gaan teen die skuldigbevinding appelleer. Sy is vrygespreek op die aanklag dat sy ‘n minderjarige verlei het om te reis om aan onwettige seksdade deel te neem.
Die verhoor het ‘n maand lank geduur, waartydens vier vroue Maxwell uitgebeel het as die sentrale figuur in hul mishandeling deur Epstein. Drie van die vier het gesê Maxwell het self aan hulle kaal borste geraak of aan die ontmoetings deelgeneem, wat soms as masserings begin het.
Aanklaers het aangevoer Maxwell en Epstein het saamgesweer om ‘n skema op die been te bring om jong meisies in seksuele verhoudings met Epstein van 1994 tot 2004 in New York, Florida, New Mexico en die Amerikaanse Maagde-eilande te lok.
Haar verdediging het aangevoer sy is ’n “sondebok” vir Epstein se optrede en het die herinneringe en motiverings van die vroue aangeval wat sê hulle is seksueel misbruik. Maxwell se prokureurs het aangevoer die vroue soek net geld, deurdat hulle uit ‘n vergoedingsfonds vir Epstein se slagoffers, baat.
“Die pad na geregtigheid was heeltemal te lank. Maar vandag het geregtigheid geskied,” het die Amerikaanse prokureur Damian Williams in ‘n verklaring gesê. “Ek wil die dapperheid van die meisies – nou volwasse vroue – wat uit die skaduwees en in die hofsaal gestap het, prys. Hul moed en bereidwilligheid om hul misbruiker in die gesig te staar het hierdie saak, en vandag se uitslag, moontlik gemaak.”
Bron: Sky News, CNN



