Rasend van bekommernis na 14-jarige verdwyn

Deel hierdie storie / Share this story

Die 14-jarige Luthien Kloenne-Warren van Kempton Park het op Oukersdag bloot ‘n WhatsApp vir haar pa gestuur en gesê sy gaan na ‘n vriendin toe voor sy verdwyn het.

Haar sussie, Chanti Smith, sê hulle is sedertdien rasend van bekommernis.

“Sy het gesê sy gaan na ‘n vriendin toe, want sy het ‘n wegbreek nodig gehad. My pa het vir haar gesê dis reg, maar dat sy ‘n location moet stuur, want ons ken nie die vriendin nie.”

Chanti sê haar selfoon was toe reeds af en die vriendin se naam wat sy gegee het, loop dood. “Ons het intussen met die vriendin se ouers gepraat, maar sy was nooit daar nie.”

Chanti en haar pa het gister vir Luthien data, lugtyd en SMS’e gekoop in hoop dat die WhatsApp-boodskappe na haar selfoon toe sal deurgaan, maar tevergeefs. “Ons was by haar selfoonverskaffer om haar laaste location op te spoor, en dit was in Reiger Park.”

Chanti sê Luthien het ‘n maand of wat gelede ook gesê sy gaan stap toe sy vir vier ure vermis was. “Ons kon haar glad nie in die hande kry nie. Net toe ons haar wou begin soek, het ons haar in die buurt gekry. Sy het toe geen verduideliking gehad van waar sy was nie.”

Indien jy iets weet rondom Luthien se verdwyning of haar iewers gewaar, kontak Chanti by 078 991 1803.