Baie mense voel ‘n gesin is nie volmaak indien daar nie ‘n troelteldier of twee is nie. Die diere word dan aanvaar as deel van die gesin, en word ook so behandel. Party sal sê dat mense dit te ver vat, maar dan gaan maak jy ‘n draai by jou plaaslike DBV en jou hart bloei vir al die diere wat sonder huise is. ‘n Troeteldier is opsig self ‘n groot verantwoordelikheid.
Daar is tot deesdae mediese fondse net vir jou viervoetige kinders. Vir jou as eienaar is dit baie belangrik om eers navorsing te doen oor die tipe hond of kat wat jy wil kry.
Elke hond en kat het hul eie temperament en kosvoorkeure. Nie alle kosse wat hulle wil eet, is gesond vir hulle nie. Katte is byvoorbeeld mal oor hul piering melk, maar dis nie altyd so goed vir hulle nie.

Die rede hiervoor is dat die ensiem wat hulle in staat stel om melk te verteer, uit hul ingewande sal verdwyn wanneer hulle ouer word. As jy ouer katte melk gee, kan die onverteerbare laktose fermenteer en jou kat maagprobleme gee.
Het jy geweet rou groente en vrugte is ‘n moet vir enige hond? Druiwe en rosyntjies is weer sleg vir honde en kan tot hul dood veroorsaak. Druiwe en produkte wat van druiwe gemaak is veroorsaak nierversaking in honde.
Om vir jou hondekind ‘n lekker tjoppie been te gee, is ook nie ideaal nie. Die been splinter in die kouproses en kan in hul slukderm en maag vassteek.
Soos wat die jare aanstap met diere, kry elke dier ook hul eie gewoontes. Hul gunsteling lê-plekkie, hulle gunsteling kosse en jy as “ouer” leer ken elke reaksie net soos wat jy leer met jou regte baba.
Navorsing het ook bewys dat jou dierekinders baie makliker mense se karakter kan oordeel.
Hou jou dierekinders dop wanneer mense kom kuier.
Katte is weer fantasties met empatie en genesing. Die Egiptenare het geglo wanneer ‘n kat iemand uitkies, op hul skote gaan lê en spin, hulle daardie persoon van enige negatiewe energie genees.

Wanneer ‘n kat jou stip in jou oë kyk en hul oë stadig knip, dan sê hulle vir jou: “Ek het jou lief”.
Een dag is vir jou hondekind gelykstaande aan sewe dae, daarom is jou hond so opgewonde as jy vanmiddag van die werk af kom. Ons staan op die drumpel van Oujaarsaand en almal gaan partytjie hou. Terwyl jy besig is met die beplanning, sluit jou dierekinders in.
Dit is vir ons ‘n jolige tyd, maar vir hulle ‘n traumatiese ervaring.
Honde se ore is sensitief vir enige geluid, omdat hulle gehoor 1 000 keer beter is as ‘n mens s’n. Honde veral assosieer harde geluide met negatiewe emosies soos aggressie en woede. Sorg dat hulle gedurende die partytjie veilig en beskut is.

Lees ook: Ons het ‘n wonderlike man verloor, sê Dalai Lama oor Tutu



