Die stryd van ‘n werkende ma

Deel hierdie storie / Share this story

Die stryd van ‘n werkende ma…

Tegnologie het verander hoe die wêreld werk. Die internet het dit moontlik gemaak vir enigeen om van die huis af te werk en menigte besighede en instansies maak gebruik daarvan, veral nou met die Covid-19-pandemie.

Jou eerste gedagte is dat dit lekker sal wees om van die huis af te werk. Jy het jou eie ure, jy kan in jou pajamas sit en werk en nog meer. Min mense besef egter die uitdaging wat daarmee gepaard gaan.

Jy moet jou werk- en huislewe kan balanseer, en dit is nog meer uitdagend as jy ‘n ma is. Jy moet werk, ma-wees, huis skoonmaak, wasgoed was, kosmaak en normaal probeer bly.

Dit kan opwindend en oorweldigend wees om dit alles te hanteer. Jy gaan verseker paniekerig raak.

Probeer uitvind wat die beste manier is om beide van jou wêrelde te hanteer wanneer hulle bots. Die sleutel is om te probeer om rustig te bly en te fokus op hoe jy te werk kan gaan om jou werk te doen en jou kinders te onderhou sonder om jouself te verwaarloos. Dit klink onmoontlik, maar dit is nie.

Maandae kan veral moeilik wees nadat jy oor ‘n naweek heeltemal daarop kon fokus om ‘n ma te wees.

Om te verstaan dat dit dan moeilik is om weer te begin werk, is die eerste stap om die balans te kry wat jy nodig het.


Wanneer jy voel dat dit te uitdagend is om hierdie twee wêrelde te balanseer, herinner jouself net aan al die voordele wat jy het om as ma het om van die huis af te kan werk.

Jy kan gerusgestel voel om te weet dat jy daar sal wees as daar ooit ‘n noodgeval is. Om die voordele te verstaan wat jy as ma kry om tuis te wees, kan dikwels help om die gevoelens van frustrasie of ontsteltenis te verminder.

Probeer eerder om jou kinders in ‘n roetine te kry. ‘n Roetine wat hulle leer ma hier is, maar dat ma werk.

Die belangrikste is verseker om aan te trek asof jy op pad kantoor toe is, want tegnies is jy op pad.

Skep ook vir jou ‘n werksarea waar daar net gewerk word. Dit kan ook help om jou huis- en werkslewe van mekaar te skei.

Herinner jouself elke dag aan jou “hoekoms”. Hoekom jy van die huis af werk en ekstra ure insit. Hoekom jy daar wil wees vir jou kinders.

Maak ook ‘n punt daarvan om daagliks vir jouself “ek-tyd” te maak, selfs al is dit net om ‘n koppie koffie vroegoggend op die stoep te geniet. En onthou, niks wat die moeite werd is, kom maklik nie.

Volg FiND iT hier op Facebook.

Lees ook: Amarula-malvapoeding: Dit proe soos nog!