Fase 8-beurtkrag sal onbepaald ingestel moet word indien ‘n besoedelingsbevel afgedwing word, sê Eskom in ‘n verklaring.
Eskom sal bykans ‘n derde van sy kragstasies moet afskakel as die kragvoorsiener sy kragstasies weens lugbesoedelingstandaarde moet afskakel. Dit sal beteken dat die land vir 12 ure per dag tydens fase 8-beurtkrag sonder krag sal wees.
Eskom sê sy vermoë om elektrisiteit te verskaf, sal aansienlik beïnvloed word as ‘n besluit van die departement van bosbou, visserye en omgewingsake (DFFE) om luggehalte-nakomingstandaarde af te dwing onmiddellik ingestel word.
Die standaarde – genaamd die Minimum Emission Standard (MES) – bind die kragvoorsiener wetlik om onmiddellik die koolstofvrystellings wat deur sy steenkoolkragstasies veroorsaak word, af te skaal.
Eskom het aansoek gedoen dat sy kragstasies tydelik van dié bevel vrygestel word.
Eskom se versoek om uitstel by die Matla-, Duvha-, Matimba-, Medupi- en Lethabo-kragstasies te kry, is heeltemal van die hand gewys.
Uitstelaansoeke vir Majuba, Tutuka, Kendal en Kriel is gedeeltelik toegestaan. Eskom het die besluite hersien en glo dit sal ‘n baie beduidende impak hê op Eskom se vermoë om elektrisiteit te verskaf.
“Indien dit geïmplementeer word, sal die besluit tot ‘n onmiddellike sluiting van 16 000 MW se geïnstalleerde steenkoolaangedrewe kapasiteit lei.
Dit sal ‘n beduidende negatiewe impak op die ekonomie en indiensneming hê, veral in Mpumalanga en Lephalale, en die land se planne vir ‘n regverdige energie-oorgang na ‘n skoner elektrisiteitsvoorsiening vertraag,” het Eskom Woensdag gesê.
Die kragvoorsiener het gesê hy betrek die DFFE, die departement van openbare ondernemings en die departement van minerale bronne en energie oor die aangeleentheid.
Volg FiND iT hier op Facebook.
Lees ook: Suid-Afrika bly op vlak 1 van inperking



