Die bevelsraad vergader wéér Dinsdag oor inperkingsmaatreëls ten opsigte van Covid-19 wanneer pres. Ramaphosa na verwagting weer “op kantoor” is.
Volgens dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, sal die nasionale bevelsraad na verwagting weer Dinsdag 21 Desember vergader om die jongste verwikkelinge rakende die Covid-19-pandemie te bespreek.
President Cyril Ramaphosa sal na verwagting Maandagoggend weer die leisels van die presidentskap oorneem en die bevelsraad lei.
Dr. Phaahla het wel gister bevestig dat die land vir eers op vlak 1 van die inperkingsmaatreëls sal bly.
Daar is ‘n vermoede dat die bevelsraad nou weekliks sal vergader, maar dat strenger inperkingsmaatreëls afhang van die aantal nuwe hospitalisasies en Covid-19-gevalle.
Dr. Phaahla het klem gelê op die feit dat vakansiegangers Covid-19-protokol moet nakom soos hulle die feestyd ingaan, en dat die Covid-19-gevalle nou in alle provinsies toeneem.



