Vals padwaardigheidsertifikate is glo in die Wes-Kaap aan motoriste vir R250 verkoop. Drie verdagtes van tussen 43 en 61 jaar oud sal op Woensdag 22 Desember 2021 in die Bellville-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog en korrupsie nadat hulle glo vals padwaardige sertifikate aan mense verkoop het.
Vals padwaardigheidsertifikate
Lt. kol. Philani Nkwalase, polisiewoordvoerder, sê die Valke se ondersoekspan na ernstige korrupsie in Kaapstad het opgetree op grond van inligting wat ontvang is oor die verdagtes wat na bewering onwettige voertuigpadwaardigheidsertifikate aan private individue by die Goodwood-toetsstasie in Kaapstad uitgereik het.
“’n Ondersoek en beslaglegging is in November 2021 by die toetssentrum gedoen en beslag is dokumente gelê vir verdere ondersoek. Dit het uitgeloop op die hofdagvaarding wat teen die drietal uitgereik is.”
‘n Voorlopige ondersoek deur die Valke het aan die lig gebring dat die verdagtes na bewering padwaardigheidsertifikate aan motoriste verkoop het sonder dat die voertuie die nodige padwaardigheidstoetse ondergaan het. Die twee voertuigondersoekers sowel as die middelman het na bewering R250 per voertuig gehef.



