‘n Geestelik siek ma van Perth wat haar twee jong dogters vermoor het voordat sy haar eie lewe probeer neem het, het glo aan die hof gesê sy het geglo sy spaar hulle lyding.
Milka Djurasovic (40) staan tereg in ‘n regter-alleen-verhoor in die hooggeregshof van Wes-Australië waar sy van dubbele moord aangekla word.
Sy het erken dat sy haar dogters Mia (10) en die sesjarige Tiana vermoor het, maar voer aan sy is nie skuldig nie, omdat sy verstandelik siek is.

Tiana
Die dogters se liggame is in Oktober 2019 deur hul pa, Nenad, by hul huis in Madeley, Engeland, gevind.
Djurasovic is ná die moorde gediagnoseer met ernstige depressie met psigotiese kenmerke.
Die hof het gehoor sy het voorheen met verergerende geestesgesondheidskwessies gesukkel en was bang haar kinders sou in pleegsorg gedwing word as sy in die hospitaal opgeneem word.
‘n Ooreengekome feiteverklaring wat by die hof ingedien is, het uiteengesit hoe Djurasovic op die dag van die moorde omstreeks 07:00 wakker geword het en by haarself gedink het “vandag is die dag”, en daarna messe, ‘n kapmes en toue in die spens gereed geplaas het.
Haar jongste dogter, Tiana, het begin huil toe sy die toue en messe sien en vir haar ma gevra “gaan jy iets aan my doen?” en gesê sy wil asseblief skool toe gaan.
Volgens dié verklaring het Djurasovic vir ‘n oomblik tot haar sinne gekom en die meisies reggekry vir skool en “opgewonde en normaal” oor die telefoon geklink toe sy ‘n oproep van haar man ontvang het.
Sy het vir etlike minute by die skoolhekke gestaan voordat sy besluit het om terug huis toe te gaan. Sy het vir Tiana gesê hulle gaan inkopies doen.

Tiana en Mia.
‘n Rukkie later sy egter besluit om voort te gaan met haar plan om haar dogters en haarself dood te maak.
Djurasovic het ‘n stofsuier aangesit sodat bure nie enige geluide kon hoor nie.
Nadat sy haar dogters vermoor het, het sy in die huis rondgestap voordat sy die meisies gesoen en omhels het en speelgoed langs hul liggame neergesit het.
Sy het toe verskeie pogings aangewend om haar eie lewe te neem en ‘n video opgeneem waarin sy herhaaldelik om verskoning vra en haar man versoek om haar toe te laat om te sterf.
Die meisies se pa het dié middag by die huis gekom en op Mia se lyk afgekom. Nooddienspersoneel het later Tiana se lyk ontdek.

Mia
Die polisie het Djurasovic kort daarna in ‘n sandduin by ‘n nabygeleë strand gevind, nadat sy wéér probeer het om haar lewe te beëindig. Sy het haarself met komberse toegemaak.
Verskeie notas deur Djurasovic is later in die huis gevind.
“Ek is liewer vir my dogters as enigiets anders en ek is so jammer dat ek nie beter na hulle omgesien het nie,” het sy geskryf.
“Ek weet ek moes ‘n beter verhouding met my man en vriende gehad het. Ek het nie daarvan gehou om oor my probleme te praat nie. Ek wens ek het. Ek is so jammer oor alles.”
In een van die briewe het Djurasovic aan haar man gesê “die meisies is reeds senuweeagtig en angstig en ek wil nie hê hulle moet eendag afhanklik wees van medikasie en dwelms gebruik nie. Ek kon nie met dáái gedagtes saamlewe nie.
“Ek is skuldig. Ek het niks doelbewus sleg gedoen nie, maar dit is hoe dit geëindig het.”
Adam Brett, die psigiater wat Djurasovic vroeër vanjaar twee keer in aanhouding gesien het, sê hy kan met sekerheid sê die beskuldigde was verstandelik siek ten tye van die oortreding en het nie die vermoë gehad om te weet sy behoort nie so iets te doen nie.
Hy het gesê Djurasovic het nihilistiese waanbeelde en het geglo sy red haar dogters van die “aaklige dinge” wat sy ervaar het.
“Sy was so lief vir hulle dat sy nie wou hê hulle moes op dieselfde manier ly as wat sy gedoen het nie.”
Die verhoor duur voort.
Volg FiND iT hier op Facebook.




