Getooi op die grondpad: ‘Going nowhere slowly’

Deel hierdie storie / Share this story

Ernie Luyt (46), wat volgende jaar vir die eerste keer deel is van die Nuts & Bolts-toer in Bloemfontein, vertel van dié projek wat namens CANSA begin is. Ou voertuie word opgetooi om op ‘n “toer” op grondpaaie te gaan vir bewusmaking van kanker en vir die “samehorigheid” wat onder die toergangers heers wanneer die ou kar op die pad probleme gee.

Ernie en sy vrou, Karen, het drie kinders – Niël, Martin en Linka.

Ernie is in Bloemfontein gebore en woon sy lewe lank al hier. Die plattelandse gevoel, met voordele van ‘n stad, is wat vir Ernie uitstaan van die Rosestad. “Bloemfontein is die hartklop van die Vrystaat en as ons almal saamwerk, kan ons Bloemies weer die trots van die Vrystaat maak.”

Kenny Williams, wat ook deel is van die Bloemfontein-toere, sê die groot Nuts & Bolts-toere vind ses keer per jaar plaas, maar dat die Bloemfonteiners sommer soms die ritte op hulle eie doen.

Ernie vertel die motors wat vir die rit gebruik word, mag slegs tussen +- R20 000 en +-R40 000 kos en dit moet ook ‘n model ouer as 30 jaar wees.

“Die motors word opgebou en omgebou na elke persoon se smaak en behoefte. Of dit nou ‘n motor is wat in jou agterplaas staan, en of jy hom op ‘n veiling opspoor en die projek aanpak, is jou keuse.”

Hy vertel die persone wat die motors koop, is enige persoon wat lief is vir en die geduld het met ouer voertuie. Dis ‘n persoon wat omgee vir sy medemens en nie terugstaan om hand by te sit nie en iemand wat sosiaal kan verkeer terwyl daar op agterpaaie gereis word.

Hy vertel die moontlikheid dat ‘n motor dalk op die grondpad kan probleme gee, wakker die element van avontuur en uitdaging tydens die toer aan. “Die ouens bied ook kranig hulp aan indien ‘n voertuig onklaar raak. Dit bring nie net samehorigheid onder die groep nie, maar sorg ook dat elke reis nie gou vergeet sal word nie.”

“Going nowhere slowly!”

Die motor wat Ernie en Emiel Jonker versier het en in hulle “rally”-motor omskep het, is ‘n 1984 Toyota Corolla 1200 paneelwa. “Die voertuig is in 1991 op ‘n veiling aangebied en vir R12 000 aangeskaf. Dis gebruik as ‘n afleweringsvoertuig en vir onderdele vir Bakkie Sentrum.

Bakkie Sentrum is die eienaar van die voertuig en mede-eienaar van die onderneming, Emiel Jonker, het meeste van die werk aan die voertuig verrig. “Ons amptelike toetsrit het glad verloop en tot groot vermaak van die kinders moes hulle as passasiers die rit meemaak en evalueer.”

Dan deel Ernie ‘n staaltjie van hoe sy gesin ook deur die projek geraak word. “Ek was besig om ‘n paar finale toebehore aan die voertuig aan te bring, toe ek besluit het om vir Linka met die “rally”-kar by die skool te gaan oplaai. Behalwe vir die spitsverkeer was die parkeerterrein oorweldig met nuuskierige oë van beide ouers en laerskooltjokkers wat onophoudelik na die versierde voertuig gestaar het. Om sake te vererger, het Emiel dit goed gedink om ‘n koddige sirene met ‘n rooi lig op die dak as deel van die Toyota se uitrusting te maak. Ek het natuurlik ruim gebruik gemaak hiervan tussendeur die verkeer en seë van kinders. Groot was Linka se verbasing toe sy besef dié is haar “lift”. Sy het probeer wegkruip, maar moes helaas die posisie van passasier inneem. Sy het egter haar masker aangehou met net twee oë wat uitsteek tot by die huis.”

Ernie sê alhoewel hulle families ons nie noodwendig op die Nuts & Bolts-ritte gaan vergesel nie, is die lekkerste vir hom om hulle deel te maak van die beplanning en die versiering en die komiese bedraes wat gelewer is. “Dit alles maak dat die tog wat ons beplan groot opgewondenheid in die hele huisgesin vestig.”

Die voertuig se amptelike eerste Nuts & Bolts-rit sal volgende jaar plaasvind. “Ons het nog net ‘n toetsrit of twee gedoen in en om Bloemfontein, en daar sal nog vele wees voor amptelik die langpad aanvat.”

“Die nuwe uitdagings, reis, interessante mense ontmoet en ‘n kuier saam met ou vriende – dit terwyl jy ook bedra tot iets groters (soos die projek agter Nuts & Bolts-toere), maak van die hele ervaring ‘n avontuur. Mens word maklik vasgevang in jou daaglikse lewe van roetine en struktuur. Hier is ‘n kans vir wegbreek buite ons normale raamwerk.”