Bea de Klerk, graad 11-leerling aan Oranje Meisieskool in Bloemfontein, het op die ouderdom van 17 jaar twee snitte, ‘Le Charmé’ en ‘The Time of Snow’, opgeneem en sy gesels met ons oor wat haar toekomsplanne inhou.
Bea vertel musiek was maar nog altyd deel van haar familie. “Veral aan my pa se kant is daar ‘n klomp mense wat in die musiek in is. My oupa was ook ‘n groot musikant, so mens kan maar sê musiek is in ons bloed.”
Bea was self nog altyd baie lief vir musiek en het van kleintyd af daarvan gehou om te sing en aan allerhande konserte deel te neem. “Vandat ek by Oranje is, het ek ‘n bietjie meer begin oefen en sing.”
Werner Stander is Bea se solosangmeneer vandat sy by die skool aangesluit het. Vandat sy in graad een was, neem sy solosanglesse en oefen en verbeter sy haar tegnieke. “Ek neem ook musiek as ‘n vak by die skool en ons onderwyseres reël altyd konserte vir almal wat dit as vak het, om te oefen.”
Die Royal Schools-eksamen waaraan Bea vanjaar deelgeneem het en met 87% spog, is internasionaal en die leerlinge wat daar die beste in elke provinsie gedoen het, is genooi om by die High Scorers Concert te gaan sing. Bea vertel daar was dié jaar net twee leerlinge wat gesing het en die ander het klavier en ander instrumente bespeel.
Oor die twee snitte wat sy opgeneem het, vertel Bea: “Dit het eintlik so vinnig en uit die bloute gebeur. Meneer Werner het die voorstel gemaak dat ek die liedjies opneem en so het ons dit binne ‘n week gereël.” Werner het Bea op die klavier begelei en Zita Olinger van Zita Films het die opname gedoen.
Bea beplan om ná haar matriekjaar by Universiteit Stellenbosch te gaan studeer. “Ek dink die geleenthede wat ek daar vir my sang sal kry, is baie goed. Ek wil regtig graag in die musiekrigting beweeg. Musiek is definitief my wêreld!”
Bea vertel dat sy hoop om deur middel van haar sang vir ander mense te wys watter groot invloed musiek op lewens kan hê.
“Hard work pays off. Met harde werk kan jy regtig enige plek in die wêreld kom.”



