Die polisie in Gauteng is op soek na gewapende mans wat ’n polisielid Donderdag in Katherinestraat, Johannesburg, doodgeskiet het.
Sers. David Tsedu was besig om te bestuur toe hy deur gewapende mans doodgeskiet is. Die verdagtes het na bewering die lid van sy dienspistool en ander items beroof voordat hulle in ‘n wegkomvoertuig van die toneel gevlug het.
Tsedu is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem, maar het ongelukkig by sy aankoms aan sy beserings beswyk.
Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het gesê die die voorval is die sentrale fokus van die polisie se ondersoek.
“Ons sal nie rus totdat diegene wat agter hierdie brutale aanval sit, aangekeer is nie.”
Die polisie doen ‘n beroep op motoriste en ander ooggetuies om na vore te kom en ondersoeke by te staan deur die Crime Stop by 08600 10111 te skakel.



