Pa, stiefma skuldig na sesjarige sterf van mishandeling,soutvergiftiging en uithongering

Deel hierdie storie / Share this story

Arthur Labinjo-Hughes (6) is in Junie 2020 in Solihull, England deur sy pa en stiefma vermoor.

Dokters het meer as 130 kneusplekke aan die hand van sy wrede pa Thomas Hughes (29) en stiefma Emma Tustin (32) op sy liggaam ontdek.

Die sesjarige is dood nadat hy ‘n ‘fatale breinbesering’ opgedoen het.

Volgens The Guardian het Tustin – wat twee ander kinders van haar eie het, van vier en vyf jaar oud – Arthur in Junie 2020 vermoor deur hom “hewig te skud en sy kop te slaan”. Dit het veelvuldige beserings veroorsaak.

Tustin is op 2 Desember skuldig bevind aan moord. Sy is lewenslange tronkstraf opgelê met ‘n minimum termyn van 29 jaar vir die moord op Arthur.

Sy is ook intussen tot nóg 10 jaar gevonnis vir vier aanklagtes van kindermishandeling, wat aanrandings, intimidasie en Arthur se soutvergiftiging, insluit, het die BBC bygevoeg.

Die paartjie het die kind gedwing om maaltye te eet wat baie sout bevat het, toe hy aan die begin van die eerste nasionale inperking in Maart 2020 by Tustin aan huis ingetrek het.

Volgens een getuie het hy minder as drie maande later “gebroke” gelyk.

Hughes is 21 jaar tronkstraf opgelê vir manslag.

Hy is ook skuldig bevind aan twee aanklagte van wreedheid, hoewel hy vrygespreek is van een in verband met Arthur se soutvergiftiging en ‘n ander wat verband hou met die uithongering van sy seun.

Tydens ‘n angswekkende verhoor van agt weke het jurielede by die Coventry Crown Court gehoor hoe die egpaar die kind voor sy dood aan maande se mishandeling, vergelykbaar met ‘marteling’, onderwerp het.

Volgens die Daily Telegraph het aanklaer Jonas Hankin QC gesê Arthur het ”n kneusplek vir elke dag van inperking’ opgedoen.

Hughes is daarvan beskuldig dat hy die moord aangemoedig het, onder meer deur ‘n teksboodskap aan Tustin te stuur 18 uur voor die noodlottige aanranding wat lui: “Beëindig hom net”.

Tustin het reeds twee aanklagte van kindermishandeling tydens die verhoor erken, insluitend die uitvoering van drie aanrandings op Arthur en ook om hom tot 14 uur per dag in haar gang te laat sit of staan ​​as deel van ‘n gedragsroetine.

Sy het ook erken dat sy ongeveer 200 oudio-opnames van Arthur gemaak het, wat dikwels huil en kreun tydens hierdie strawwe, en beweer sy het dit net gedoen om dit na Hughes te stuur om die seun se “stout” gedrag te demonstreer terwyl hy afwesig was.

Die suiwer wreedheid van die egpaar is oor twee maande in die hofsaal uitgespeel.

Boodskappe tussen hulle het hul gevoelens teenoor die seuntjie gewys, wie se ma voorheen tronk toe gestuur is vir  manslag van haar kêrel.

Hughes het in brutale boodskappe vir Tustin gesê om Arthur net te “beëindig” en ook “sy kakebeen af ​​te breek”.

Hy het ook gedreig om “sy nek af te haal” en “sy kop van sy lyf af te slaan”.

Tydens die hofverrigtinge het dit ook uitgekom dat Tustin Arthur weke voor sy dood met sout vergiftig het, waarna sy hom ook ‘n “aansienlike” hoeveelheid gegee het in die ure voor sy dood.

Volgens The Guardian was Arthur se natriumvlakke met sy aankoms by die hospitaal so hoog, dat mediese personeel dit nie akkuraat kon meet nie.

Arthur se ma, Olivia Labinjo-Halcrow (27), het in ‘n verklaring na sy dood gesê die besonderhede van Arthur se saak is aangrypend en onvergelykbaar, “maar ek wil hê mense moet weet wie Arthur was. Van sy groot glimlag en sy persoonlikheid tot sy sagte omgee-geaardheid.
Nooit het ek gedink dat hy so vroeg in sy lewe uit hierdie wêreld geneem sou word nie.”

Labinjo-Halcrow dien tans ‘n vonnis van 11 jaar uit nadat sy haar aan-af-kêrel in Februarie 2019 in ‘n woedebui aangevuur deur drank en dwelms by haar woonstel doodgesteek het. Sy is later in die hof aan manslag skuldig bevind.

Arthur het die grootste deel van sy lewe by sy ma gewoon, hoewel sy en Hughes toesig gedeel het. Arthur was twee jaar oud toe sy ouers uitmekaar is.

Labinjo-Halcrow is egter in Februarie 2019 gearresteer weens die moord op Gary Cunningham. Hughes het volle toesig oor Arthur gekry.

Volg FiND iT hier op Facebook.