‘n Italiaanse man wat dié land se Covid-19 entstofmandaat wou omseil, het ‘n vals arm gedra toe hy moes ingeënt word.
Hy het moontlik honderde euros betaal vir die silikoonprostese, wat hy na ‘n entstofsentrum in Biella, ‘n dorp in die Noordelike Piemonte-streek naby Turyn, gedra het.
Die Guardian berig die 50-jarige man het probeer om sy sogenaamde Groen Pas te kry deur die vals arm. Hy het ‘n toestemmingsvorm onderteken en sy mou opgelig vir die gesondheidswerker, wat aanvanklik niks opgemerk het nie. Die vrou, Filippa Bua, het besef daar is iets fout toe sy aan die fop-ledemaat raak. Sy het aan die Italiaanse koerant, La Repubblica, gesê dat sy agterdogtig geraak het omdat die kleur van die arm snaaks gelyk het.
Alberto Cirio, president van Piemonte, het in ‘n gesamentlike verklaring met Luigi Icardi, hoof van streeksgesondheid, gesê: “Die spoed en vaardigheid van die gesondheidswerker het die planne van hierdie persoon in die wiele gery, wat nou op die regbank moet reageer.”
La Repubblica het voorgestel dat dieselfde man dalk ‘n boodskap op Twitter gedeel het met ‘n silikoon-lyfpak wat op Amazon te koop is, saam met die boodskap: “As ek hiermee gaan, sal hulle dit agterkom? Miskien sal ek onder die silikoon selfs ekstra klere aantrek om te verhoed dat die naald my regte arm bereik,” het die gebruiker na bewering bygevoeg.



