Polisiebeampte oorlede tydens aanval

Deel hierdie storie / Share this story

Vyf polisiebeamptes is in twee afsonderlike voorvalle aangeval waarvan een tot die dood van ’n polisiebeampte gelei het.

Brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, sê die polisie het gisteraand omstreeks 23:45 na Zimeleni- informele nedersetting in Umlazi gegaan om inligting op te volg oor mense wat glo in besit was van ongelisensieerde wapens.

“Die verdagte het die polisiebeamptes sien naderkom en op hulle losgebrand. Drie polisiebeamptes is as gevolg daarvan beseer en ’n konstabel (29) is oorlede nadat hy hospitaal toe geneem is.

Polisiebeampte oorlede

‘n Verdagte (44) is noodlottig gewond in die skietgeveg wat gevolg het. ’n Rewolwer met vier rondtes ammunisie asook ’n dolk is deur die polisie op beslag gelê.

Aanklagte van moord en poging tot moord is by die Umlazi-polisie vir ondersoek geopen.

In nog ’n voorval wat gister om 15:30 plaasgevind het, het Bo-Tugela-polisiebeamptes gereageer op ’n verslag van gesinsgeweld by Dukuza naby Bergville. By hul aankoms op die toneel is hulle deur ’n verdagte gekonfronteer wat baie aggressief teenoor die polisiebeamptes opgetree het. Die verdagte het albei polisiebeamptes met ’n skoffel aangeval wat daartoe gelei het dat een polisiebeampte in die kop gewond is, terwyl die ander een in die arm gewond is.

Die verdagte het van die toneel gevlug, maar hy is deur die polisie agternagesit. Die verdagte (29) is in hegtenis geneem op aanklag van poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die beseerde polisiebeamptes is hospitaal toe geneem vir mediese aandag.

Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels hier.