January 26, 2022

Gegroet met heli-rit na 36 jaar as legendariese hoof

’n Legendariese skoolhoof is iemand wat ’n nagedagtenis agterlaat. Wie kinders se lewens verander, sterre opgelewer het en van homself gegee het. Wie steeds, na al die jare, vir van sy skoolleerlinge ’n Whatsapp sal stuur om te sê “goeie werk”.

Dít is Boon Boonzaier (62), die skoolhoof van Laerskool Newton in Kimberley, wie vandag sy laaste dag by die skool met ‘n Bell 222 UT-helikopter van Rocket HEMS opgetel is en vaarwel geroep is deur die hele skool.

Boeta Dippenaar, hoof uitvoerende beampte van Henley Air, asook Rocket HEMS en voormalige Protea-krieketspeler, het Boonzaier (oftewel “Boontjie” soos baie mense hom ken) sélf op die rugbyveld verras.

KYK DIE VIDEO HIER:

“Mnr. Boon het ‘n groot rol in baie kinders se lewe gespeel. Hy het ‘n groot rol in my lewe gespeel. Jy kry min onderwysers wat bereid is om hulle eie tyd op te gee om 500 – 1000 km te ry sodat die kinders ekstra wedstryde kan speel. Dis nie genoeg om teen die spanne te speel in Kimberley nie, jy moet ook gaan en teen die beste skole in die land speel. Dis nie enigiemand wat dit doen nie.”

Dippenaar sê as ’n mens gaan kyk na watter provinsiale spelers deur Boonzaier se hande is, kan Griekwaland-Wes krieket hulle “sterre dank”.

Buiten sy eie ouers was Boonzaier volgens hom sy grootste ondersteuning en inspirasie.

Mnr. Boonzaier, wie vanaf 1985 by Newton skool gee en 24 jaar daarvan skoolhoof was, is bekend vir sy liefde vir krieket en het ook later ’n veld na Boeta Dippenaar vernoem. Die skool het nou ’n bankie ter herinnering vir Boonzaier opgerig, waarop hy saam met sy vrou, Suzette (61) kan sit en krieket kyk. Suzette was al ’n jaar voor Boon by Newton, vanaf 1984 en het die pre-primêre afdeling vanuit niks ontwikkel tot wat dit vandag is.

Die leemte wat hulle los sal nog vir lank gevoel word. “Onder mnr. Boonzaier se uitmuntende leierskap vir 24 jaar het ons toewyding en waardes geleer, waarop ons sal voortbou. Newton is so trots om dié egpaar te ken en ons gun hulle die welverdiende aftrede. Ons is ongelooflik trots om deel te wees van die familie,” sê Yolanda de Kock.

De Kock, tesame met die bestuurspan by Newton, wie insluit Pedro Enslin, Nita du Plessis, Lourens de Koc, Melissa Barnardt, Helena Van Vreden en Thinus Carstens, het ’n erewag met al die leerlinge van Newton gereël om mnr. Boonzaaier vaarwel te roep. Hulle het ook saam met Dippenaar gewerk om Boonzaier te verras met die helikopter-rit. Die leerlinge het rondom die kolfblad van die krieketveld ’n hart gevorm, wat deur die Boonzaiers uit die lug gesien kon word soos hulle vir die laaste keer ’n draai oor die skool gevlieg het. Enslin neem oor as waarnemende hoof.

Leave a Reply

Your email address will not be published.