NOORDWES. – Sers. Frederick Wilhelem Barnard (41) sal na verwagting vandag 29 November 2021 sy tweede verskyning in die Klerksdorp-landdroshof maak vir beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur.
Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, sê Barnard het verlede Maandag sy eerste hofverskyning gemaak. “Die sersant is steeds in aanhouding vir ’n formele borgtogaansoek ná hy Saterdag 20 November 2021 in Wilkoppies, Klerksdorp in hegtenis geneem is.
LEES OOK: Tiener doodgeskiet, twee vroue gyselaar gehou
Beskadiging van noodsaklike infrastruktuur
“Die beskuldigde is in hegtenis geneem nadat die polisie gereageer het op ‘n wenk oor ‘n man wat na bewering koperkabels by sy perseel brand. Tydens die arrestasie is daar op koperkabels, met ‘n geraamde waarde van R20 000, beslag gelê. Barnard sal vandag weer in die hof verskyn vir die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur.
Mokgwabone sê die ondersoek duur voort.
Waarskuwing
Lt.genl Sello Kwena, die provinsiale kommissaris van Noordwes, sê die arrestasie sal beslis as ‘n waarskuwing aan alle SAPD-lede dien dat diegene wat misdaad pleeg en die beeld van die diens skend, geen genade betoon sal word nie.
Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels in Afrikaans hier.



