Die gewese Griekwa-afrigter, Peter Engledow, is pas aangewys as die nuwe hoofafrigter van die eersterugbyspan by Durban High School.
“Engledow bring ‘n groot hoeveelheid ervaring en rugbykennis saam wat hy nie net in Suid-Afrika opgedoen het nie, maar ook in Engeland,” sê die skool.
Engledow het sy afrigtingsdae by die Hoërskool Table View begin, maar kort daarna na Engeland verhuis waar hy meer as ‘n dekade as ‘n ontwikkelingsbeampte vir die RFU (nasionale beheerliggaam vir Engeland se rugby-unie) deurgebring het, terwyl hy ook by die gesogte St Joseph’s College in Engeland afgerig het.
Ipswich St Joseph’s College bied sedert 1986 die grootste interskole rugbytoernooi in Engeland aan.
Engledow keer in 2013 terug na Suid-Afrika as die hoofafrigter van die Griekwas Vodacombeker-span en staan Hawies Fourie tydens die Curriebeker by. Na Fourie se vertrek na Maties, het Engledow as hoofafrigter van die Griekwas in beide die Rugby-uitdaag- en Curriebeker-reeks oorgeneem.
Engledow word in 2018 as Sean Erasmus se plaasvervanger aangestel as die hoof van rugby by die Hoër Jongenskool Paarl. Erasmus is intussen weer in dié pos aangestel.
Engledow se kontrak het op 30 September by die Paarliete verstryk, maar ten spyte van die onlangse ontwrigtings van Covid-19, het hy steeds daarin geslaag om’n wenpersentasie van 87% te handaaf.
“Ons is ongelooflik trots om ‘n man van hierdie kaliber aan die stuur van ons 1ste XV te hê,” het Durban High School bygevoeg.




