Kan jy die geslag van jou baba voorspel?

Deel hierdie storie / Share this story

Om die geslag van jou ongebore baba uit te vind, is seker een van die opwindendste aspekte van jou swangerskap, alhoewel nie alle paartjies vooraf die geslag van die baba wil weet nie.

Daar is honderde bisarre metodes aanlyn beskikbaar om uit te vind of jy ‘n dogtertjie of ‘n seuntjie verwag.

Die ouvroustories en -mites is oorvloedig wanneer dit by die voorspelling van die geslag tydens swangerskap kom.

Byvoorbeeld, ‘n seuntjie sal jou hare vinniger laat groei, ‘n dogtertjie sal jou meer emosioneel maak, en seuntjies maak jou aggressief.

Hier is ‘n paar mites wat in die ou dae, en selfs nog tot vandag toe, gebruik word om uit te vind wat die geslag van jou baba is.

1. Die baba se hartklop

Om uit te vind of die baba ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie gaan wees, is daar die hartklopmetode. Die hartklop van ‘n baba is een van die mees vertroostende geluide vir ‘n ma, maar dit kan ook ander waardevolle inligting verskaf.
Daar word gesê as die kind se hart meer as 140 keer per minuut klop, is dit ‘n dogtertjie. As dit minder gereeld gebeur, is dit ‘n seun.
Die geldigheid van hierdie toets word nie deur die mediese gemeenskap onderskryf nie, maar al is dit net uit nuuskierigheid, kan jy probeer om die slae tydens die volgende ultraklanksessie te tel.

2. Pers of pienk urine

Jy sal dit waarskynlik baie vreemd vind, maar dis een van die metodes wat ouer mense gebruik het voor vandag se moderne tegnologie.

Hierdie toets behels die gebruik van urine.

Hoe werk dit?

• Bring water tot kookpunt

• Behou die kookwater

• Meng met ‘n paar druppels van jou urine

• As die mengsel ‘n pers kleur kry, beteken dit dat jy ‘n seuntjie verwag. As die finale kleur pienk is, is jy swanger met ‘n dogtertjie.

3. Die ringtoets

Hoe kan ‘n ring die geslag van die kind weet? Hier is ‘n truuk wat bestaan ​​sedert die dae van ons oumas.
Bind ‘n tou om ‘n ring waaraan jy baie waarde heg en gaan lê dan op jou rug.
Vra iemand om die ring oor jou maag te laat hang. As die ring heen en weer begin swaai, is dit ‘n seuntjie. As die ring in ‘n sirkelbeweging draai, is dit ‘n dogtertjie.

4. Oggendsiekte

Oggendnaarheid is een van die eerste en algemeenste simptome van swangerskap.

Indien jy erge oggendsiekte, veral in die eerste drie maande van jou swangerskap, kry, is dit ‘n dogtertjie. Vrouens wat seuntjies verwag, is na bewering gewoonlik soggens minder naar.

5. Jou maag

Jy het sekerlik al van hierdie mite gehoor. As jy hoog dra, is dit ‘n dogtertjie en as jy laag dra, is dit ‘n seuntjie.

6. Soet of sout

Die meeste mense verwys hierna as cravings. Indien jy meer soetgoed oos sjokolade, koek of lekkergoed, crave, verwag jy ‘n dogtertjie. As jy meer pizza, brood of souterige goed wil eet, verwag jy ‘n seuntjie.

7. Die koeksoda-metode

Hierdie is nog ‘n vreemde manier om uit te vind wat die geslag van jou kind is.

Hierdie toets behels weer die gebruik van urine.

• Twee of drie eetlepels urine moet by ‘n glas koeksoda gevoeg word.

As die mengsel borrels maak, verwag jy ‘n dogtertjie en as niks gebeur nie, is dit ‘n seuntjie.

8. Aknee

In die verlede het mense geglo as jy ‘n dogterjie verwag, sukkel jy meer met jou vel as wanneer jy ‘n seuntjie verwag.

Daar word gesê dat ‘n dogtertjie haar ma se skoonheid steel.

9. Die vorm van die gesig

Dit is normaal dat ‘n vrou se gesig tydens swangerskap ronder word as gevolg van gewigstoename.

Daar word geglo as jy ‘n dogtertjie verwag, jou gesig ronder sal wees as wanneer jy ‘n seuntjie verwag.

10. Koue voete

As jou voete kouer as gewoonlik is gedurende jou swangerskap verwag jy ‘n seuntjie. Indien nie, word gesê dit is ‘n dogtertjie.

Lees meer artikels hier en volg FiND iT op Facebook hier.