Dit was ‘n emosionele seremonie toe die gewilde Afrikaanse sanger, Theuns Jordaan (50), vanoggend gegroet is.
Jordaan is verlede week oorlede nadat leukemie ‘n jaar gelede by hom gediagnoseer is.
Die afsterwe van die geliefde musiekheld het die land en mede-kunstenaars in rou gedompel.
Die diens, wat deur ds. Pieter Badenhorst gelei is, is regstreeks vanaf die Moreletapark-gemeente in Pretoria uitgesaai.
Bok van Blerk, Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Dozi, Ricus Nel en Kurt Darren het die kis in die kerk ingedra.
Ds.Badenhorst het Theuns beskryf as ‘n man van min woorde, iemand wat nie baie gepraat het nie. Min mense het sy hart geken.
“Theuns se stem is dalk stil, maar vandag praat sy Bybel harder.”
Theuns gaan voortleef in ons huise en ons harte deur sy musiek.”
Willie Jordaan, Theuns se pa, het op sy beurt die mooiste stories en herinnerige oor sy seun gedeel en sinne uit van sy bekendste liedjies gehaal om iets te sê of te beskryf.
Met trane wat vlak in sy oë lê, het hy gesê dat hy nooit weer sy eie blonde witkoppie met die blou oë se hand sal kan vashou nie.
“Ek is bang om op te hou praat, want ek weet as ek ophou, gaan hulle jou (die kis) kom haal.”
Jordaan se ma, Maryna Jordaan, kon ongelukkig nie gereis het om die diens by te woon nie. Sy is in ‘n versorgingseenheid op Bethulie. Jordaan se enigste suster, Linda, was by haar vir ondersteuning.
Versekeie vriende, kollegas en mede-kunstenaars het gedurende die diens ‘n huldeblyk aan Theuns gebring.
Werner van Dalen, wat Theuns vir die afgelope 22 jaar voor en agter die verhoog geken het, kon sy trane nie keer toe dit sy beurt was om te praat nie.
“Theuns was ‘n eenvoudige mens sonder tierlantyntjies. ‘n Positiewe mens. Baie realisties. Iemand wat ‘n dromer was en sy drome so goed kon uitvoer.”
Hy sê Theuns het nooit verander nie en altyd dieselfde mens gebly. Selfs in moeilike tye het hy nooit tou opgegooi nie.
“Dankie vir al jou geselsies, liefde en raak. Ek is lief vir jou en gaan jou verskriklik baie mis, my bra. Sien jou weer.”
‘n Emosionele Bobby van Jaarsveld sê hy het nooit gedink dat hy op so ‘n diens sal praat nie.
Van Jaarsveld het Theuns beskryf as iemand wat altyd ‘n presence om hom gehad het.
” Theuns hoef nie eers te gepraat het nie, jy het geweet hy is daar. As hy in ‘n vertek instap, het jy dit geweet.
“Theuns Jordaan, ek het jou lief, ek groet jou. Dit is tjailatyd. Sien jou weer.”
Bok van Blerk het sy eer betoon deur Kaplyn te sing en Dozi Grassade. Jacques du Plessis het vir oulaas op Theuns se kitaar gespeel en gesing.
David Kramer, Gian Groen, Anton Goosen en Dr. Victor, wat nie die diens kon bywoon nie, het elkeen in ‘n video, wat tydens die diens gespeel was, hul eer betoon.
Steve Hofmeyr het ‘n hartroerende lied vir sy jarelange vriend net na sy dood geskryf. Slegs ‘n paar dae voor Theuns oorlede is, het hy ‘n stemboodskap aan Hofmeyr gestuur wat deel van die lied is. Die lied is ook gedurende die diens vir die eerste keer gespeel.
Terwyl die kis uit die kerk gedra is en die mense die kerk verlaat het, het Kurt Darren, Dewald Wasserfall, Jay, Dozi, Ricus Nel, Ray Dylan en Bok van Blerk vir oulaas almal saam een van Theuns se gewildste medleys gesing.
In ‘n laaste eerbetoon teenoor Theuns is daar rose buite die kerk op sy kis geplaas.


















